Nou is die vraag op almal se lippe: Gaan Tarryn Lamb nog deel wees van die gewilde musiekgroep BlackByrd?

Die antwoord is ’n besliste ja!

“Die groep het verskeie optredes wat oor die volgende paar maande gaan plaasvind,” het haar woordvoerder, Ian Bredenkamp, bevestig.

“Maar Tarryn geniet dit om in die Afrikaanse mark te werk en gaan vir die res van die jaar baie daarop fokus.

“Sy reik later vanjaar ’n Afrikaanse soloalbum uit en van Suid-Afrika se grootste name werk saam met haar hieraan,” verklap Ian.

“Sy gaan aan die einde van dié jaar en begin volgende jaar baie tyd daaraan bestee om te toer om haar album te bemark.”

Tarryn se eerste Afrikaanse enkelsnit is onlangs uitgereik en is ingesluit by die versamelalbum 40 Grotes In Afrikaans. Hierdie enkelsnit is haar weergawe van die sangeres Laurika Rauch se gewilde liedjie Blouberg se Strand.

Die pragtige donkerkop het pas haar ses weke lange kamee-verskyning as Kim Adams in die gewilde kykNET-sepie Suidooster afgehandel.

Skakel in vanaand by Suidooster 6:30pm @kyknettv ??

A post shared by Tarryn Lamb (@tarrynlamb1) on

Tarryn het ook pas klaar geskiet aan ’n rol wat sy in die opkomende Ellen Pakkies-fliek gaan vertolk.

Ian verklap voorts sy gaan later vanjaar weer in ’n kykNET-program verskyn, maar hy wou nie in hierdie stadium verder daaroor uitwei nie.

By Tarryn se eerste solo-optrede, wat op 7 Oktober by Die Boer in Durbanville, plaasvind, gaan sy Afrikaanse liedjies van haar opkomende album sing, asook bekende BlackByrd-treffers.

Dit gaan haar eerste solo-optrede van vele meer oor Suid-Afrika heen wees.

Tarryn is al jare lank die hoofsangeres en liedjieskrywer van BlackByrd.

Die groep is oor die jare al vir sewe Sama-pryse benoem en hulle spog met agt top-10 radio-enkelsnitte.

Tarryn is boonop ook besig om ’n musiekspel saam met die komediant Marc Lottering te skryf.

Besige bytjie!

#breakingtheice #auntymerlethemusical @marc_lottering #allsmiles ??????

A post shared by Tarryn Lamb (@tarrynlamb1) on