Moet egter nie 'n fout maak nie: Allister Coetzee en sy ietwat aangepaste span is gewis onder groot druk... en Brisbane was hoeka voorheen nie vir ons 'n goeie jagveld nie. Aanhangers is nuuskierig om te sien hoe die nuwe senterkombinasie van Juan de Jongh en Jesse Kriel gaan vaar, en Francois Hougaard op vleuel in die plek van die beseerde Ruan Combrinck.

A photo posted by ??????? (@taroma0813) on

Voorlangs is Lourens Adriaanse wat uit die staanspoor in die voorry inskuif die enigste verandering.

Maar baie rugbyliefhebbers hoop wel op heelparty veranderings in die Bokke se spelbenadering. Wat staan hulle te doen as hulle weer op dreef wil kom?

"Ons moet regtig die bal probeer skuif. Die ouens kry net nie die bal weg nie... dit kom nie by die vleuels uit nie," reken Frik du Preez, SA speler van die 20ste eeu.

"Ons moet darem met 'n paar verrassings vorendag kom. As ék heelpad hiervandaan kan sien, 'O, heng ons gaan weer skop', dan weet die ander span dit vir seker."

Dis nie dat hy dink die Bokke moenie skop nie, maar sover het hul skopwerk veel te wense oorgelaat. "Ons moet takties skop, maar skop heeltyd in hul heelagter se hande. Laat eerder die bal 'n bietjie langs hom land." Hy sal Pieter-Steph du Toit ook meer op die veld wil sien. "Sommer ook op no 7-flank. Hy gee net daai bietjie ekstra woema."

So ook ouens soos Jaco Kriel en Steven Kitshoff, wat baie mense juis ook 'n slag in die beginspan sou wou sien.

"Allister moet besluit watter spel hy sy span wil laat speel en daarvolgens spelers kies," meen Gavin Rich, ontleder en skrywer van The Springbok Coaches. As hy byvoorbeeld op die Lions-manier wil speel, moet selfs meer Lions-spelers 'n kans kry, sê Gavin.

"Maar soos [oudafrigter] Ian McIntosh jou sou sê, moet ons ook nie ons tradisionele sterk punte vergeet nie. Daar's tye wanneer crash & bash wel reg is. Elemente van die meer avontuurlike, aanvallende afrigters moet egter ook ingewerk word. "Dit pla my tans dat ons in die soeke na 'n bloudruk dinge waarin ons altyd goed was, begin verwaarloos. Taktiese skopwerk. Dryfmaal. Afskoppe en afskoppe vang. Dis dinge wat die All Blacks byvoorbeeld nou meer as ooit oefen. "Daar moet as 't ware 'n sintese wees van wat Jake White gedoen het en wat Johan Ackermann doen." (Die voormalige Bokbreier se wenrugby was dikwels eintlik bra konserwatief, toegespits op goeie uitvoering van die basiese dinge, terwyl die Lions-afrigter nou as ons beste afrigter van hardlooprugby beskou word.) Spelers moet hulle aanpas by wat die spelsituasie vereis en hul besluite daarop grond, verneem ons van die voormalige Bok-losskakel Naas Botha.

"Spelpatrone het al baie skade in SA rugby aangerig," voeg hy by. "Ek het al voorheen die voorbeeld van Francois Hougaard gebruik. Hy was vir my een van die beste spelers. Toe word hy Springbok, maar weens [die afdwing van 'n bepaalde patroon] het hy ná twee toetse nie geweet watter kant toe nie.

"Spelers moet egter ook verantwoordelikheid aanvaar. Die afrigter kan doen wat hy wil, maar as hulle nie op die veld die bal kan vang en uitgee nie..."

"Ons is te voorspelbaar," beaam die voormalige Bokslot Kobus Wiese. Hy reken ook Elton Jantjies was sover nie dieselfde speler by die Bokke as wat hy by die Lions was nie omdat hy dalk in patrone "ingedwing word wat nie sy sterk punte pas nie". Intussen bly Kobus 'n voorstander van die kies van ouens op peil... "Allister is aangestel tot die volgende Wêreldbeker, en hy moet sy tyd gebruik om die kaf van die koring te skei. Ons moet wel 'n kombinasie hê van jeug en ervaring, maar al hoe jy gaan weet of 'n nuwe speler die mas gaan opkom, is om hom speelkans te gee..." Die Bok-span teen Australië in Brisbane, Saterdag 10 September, 12:05 nm

15. Johan Goosen

14. Bryan Habana

13. Jesse Kriel

12. Juan de Jongh

11. Francois Hougaard

10. Elton Jantjies

9. Faf de Klerk

8. Warren Whiteley

7. Oupa Mohoje

6. Francois Louw

5. Lood de Jager

4. Eben Etzebeth

3. Lourens Adriaanse

2. Adriaan Strauss

1. Tendai Mtawarira

Plaasvervangers

16. Bongi Mbonambi

17. Steven Kitshoff

18. Trevor Nyakane

19. Franco Mostert

20. Pieter-Steph du Toit

21. Jaco Kriel

22. Morné Steyn

23. Lionel Mapoe