President Jacob Zuma se toekoms hang in die lug nadat lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die afgelope naweek ’n aanval op hom geloods het.

zuma
Derek Hanekom, die minister van toerisme, het skokgolwe deur die party gestuur toe hy oor die naweek ’n mosie indien waarin hy vra dat president Jacob Zuma uit die NUK tree. "Lede wat daarop uit is om Zuma te laat verwyder vra om ’n geheime stem waarmee hulle die president se lot kan bepaal. Dit kan die laaste spyker in president Zuma se doodskis wees omdat dit dié wat ’n teenreaksie op hul stem vrees beskerm," het die koerant City Press oor die naweek berig.
Die NUK se vergadering in Irene in Pretoria moes reeds Sondag eindig, maar die ANC-woordvoerder Zizi Kodwa het bevestig die vergadering gaan Maandag aanhou. "Die gety draai en ons is nou by ’n keerpunt," sê professor André Duvenhage, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noord-Wes Universiteit. "Die NUK is die hoogste besluitnemende mag binne die ANC en was een van die laaste liggame wat Zuma nog beskerm het." Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die NUK-lede wat in die geheim wil stem hul wens sal kry nie, beaam prof. Duvenhage, en sê dit sal ’n wysiging verg omdat dit nie konvensie is dat lede in die geheim mag stem nie.
"Niemand kan voorspel of hulle daarin sal slaag om Zuma te laat verwyder nie. Hy is ’n Houdini, maar al slaag hulle nie daarin nie, gaan dit steeds sy uitgang versnel." Onder die lede wat toenemend teen Zuma draai tel die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, en Naledi Pandor, die minister van wetenskap en tegnologie, sowel as die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu. Daar word bespiegel Derek Hanekom het oor die naweek ’n gaping gesien om Zuma se ondersteuners uit te oorlê omdat heelparty van die NUK-lede nie aanwesig was nie.

Mzwandile Masina, Ekurhuleni se burgemeester, het oor die naweek in Stellenbosch getrou en talle lede van die NUK was by die troue. "Ek glo nie Derek Hanekom het die aanslag beplan nie. Ek glo hy het gesien van Zuma se ondersteuners is afwesig en die gaping aangegryp," sê prof. Duvenhage.

Omdat Zuma al aanslae uit alle oorde oorleef het, is die kans goed dat hy ook dié een sal oorleef.

"Maar ek glo dit is die begin van die ANC wat Zuma uitbestuur."

Die NUK-vergadering is steeds onderweg. Hou Huisgenoot dop vir verdere inligting.