Dit was deel van die kommentaar van die Engelsmedium Hoër Seunskool Jeppe in die ooste van Johannesburg, waar die voorval plaasgevind het.

Op die video gil die merkbaar ontstelde onderwyseres op ’n kind: “Waar is jou boek? Waar is jou notas? Wat de f** maak dit in jou tas? Daarna sê sy hom in onvleiende taal aan om sy mond te hou.

Michael Berger, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het in ’n verklaring namens die skool aan Huisgenoot gesê die onderwyser het persoonlik aan hom en die skoolhoof gesê sy wil nie kommentaar lewer of verklarings uitreik nie.

“Ons respekteer en ondersteun haar besluit om hierdie reg uit te oefen,” lui die verklaring.

Voorts lui die verklaring dat die betrokke onderwyser ’n werknemer van die Gautengse departement van onderwys is en dit volgens prosedure onbillik sou wees vir die beheerliggaam om namens haar te praat.

“Teen nóg die onderwyser nóg die betrokke leerders is sanksies opgelê (as straf of vir rehabilitasie) omdat formele tugverhore nog moet plaasvind sodra die nodige prosesse, prosedures en ondersoeke wat tot die verhore sal lei, afgehandel is.”

Die voorval word nog ondersoek. Michael het Donderdagoggend met amptenare van die Gautengse onderwysdepartement, skoolhoof, adjunkhoof en die betrokke onderwyser beraadslaag.

Luidens die verklaring voer die beheerliggaam ook sy eie ondersoek uit.

Michael het namens die beheerliggaam versoek dat die “hof van openbare mening” en sosialemediagebruikers in die algemeen nie te vinnig ’n oordeel vel of mense of enige gesag viktimiseer en striemende verklarings maak op grond van persoonlike mening nie.

“Die Hoër Seunskool Jeppe bly verbind tot die voortgesette ondersteuning van hierdie proses.”

Oudleerders het in die sosiale media hul steun aan die onderwyser getoon. Ene Bongani Kumbula het geskryf die 30 sekonde lange videogreep kan die loopbaan van ’n “wonderlike vrou” wat meer as 30 jaar van haar lewe aan die opvoeding van kinders gegee het, ontspoor.

“Geen konteks word saam met die greep gegee nie. Wat ontbreek, is die hoeveelheid druk wat kinders op onderwysers uitoefen om hulle tot breekpunt te dryf. Glo my, sy is in ’n hoek gedryf waar sy moet kies: om te reageer hoe sy reageer het of om te begin huil en ’n nederlaag te erken.

“En ons, die jong, onkundige en vol nonsens (leerders) weet presies hoe om ’n onderwyser te breek. En hulle breek almal, want ons is klein tsotsi’s wat sit en die krake en knoppies soek om te druk en hulle oor die afgrond te stoot.”

Bongani skryf voorts die halfminuut lange videogreep laat mense geregtig voel om “liewe mev. Fantasties te oordeel. Die greep laat uit dat sy ’n liefdevolle vrou, goeie ma vir haar kinders en ’n magdom Jeppe-seuns is.”