Dít is die vraag op almal se lippe nadat Sizwezakhe Vumazonke (35), een van die groot rolspelers in die moord en ook ’n beskuldigde, Woensdag ná ’n kort siekbed dood is.

Die staat voer aan Christopher Panayiotou (29) het Sizwezakhe gehuur om sy vrou, Jayde (28), in April verlede jaar voor hul huis in Kabegapark, Port Elizabeth, te ontvoer en dood te skiet.

Christopher word daarvan aangekla dat hy die baasbrein agter sy vrou se moord was. Sizwezakhe het saam met Christopher en twee ander beskuldigdes, Sinethemba Nemembe en Zolani Sibeko, tereggestaan op aanklag van moord.

Die voorverhoor sou Maandag 5 September in die hooggeregshof in Port Elizabeth begin het, maar volgens Sizwezakhe se prokureur, Michelle Blignaut, het hy in ’n koma geraak nadat hy ’n ruk lank siek was terwyl hy in die St. Albans-gevangenis in aanhouding was. Die verhoor is tot 15 September uitgestel.

Dit was die tweede keer dat die voorverhoor weens Sizwezakhe se siekte uitgestel moes word. Hy is in die Livingstone-hospitaal opgeneem en is Woensdagoggend oorlede weens “natuurlike oorsake”.

Lt.kol Rhynhardt Swanepoel, hoofondersoekbeampte in die saak, verseker egter sy dood het geen invloed op die saak nie en dat die verhoor teen Christopher en die ander twee beskuldigdes sal voortgaan soos beplan.

“Sedert Sizwezakhe se in hegtenisneming het hy nooit ’n verklaring afgelê nie en hy het sy reg tot stilswye gebruik. Sy dood beïnvloed geensins ons saak teen Christopher en die ander twee beskuldigdes nie,” het hy aan Huisgenoot gesê.

Die staat wag vir nadoodse toetsuitslae omdat daar gevrees word Sizwezakhe is moontlik vergif.

Ekstra bron: The Herald