Die 32-jarige sangeres, wat al twee keer voor die kansel was, is gretig om met David te trou en oorweeg Graceland, wat nou ’n museum is, as ’n opsie.

“Britney wil soveel aandag en geld vir die foto’s vir haar derde huwelik kry soos sy met die tweede gekry het; daarom oorweeg sy dit om Elvis se dogter, Lisa Marie Presley, te vra of sy daar mag trou,” het ’n bron aan RadarOnline gesê.

Die herehuis, waar Elvis en sy vrou, Priscilla, tot met sy dood in 1977 op 42 gewoon het, is een van die gewildste privaat huise in Amerika en die Toxic-sangeres glo dis die perfekte plek om haar trougaste te onthaal.

“Nie net sal Graceland, wat nou ’n toeriste-aantreklikheid is, ’n mooi plek wees vir Brit en David om te trou nie, maar dit sal ook gerieflik wees vir meeste van hul familielede wat in die Suide woon,” sê die bron.

“As Lisa Marie, wat die Graceland-landgoed bestuur, haar toestemming gee, sal Britney met mening aan haar troue begin beplan.”

Britney, wat twee seuns, Sean Preston (8) en Jayden James (7) by haar eksman Kevin Federline het, het onlangs die tonge laat klap dat David die ja-woord gevra het nadat sy met ’n ring aan haar trouvinger gewaar is.