gourmet-boerie-rolls

Vir die roosterkoek:

10 g aktiewe droë gis

500 ml (2 k) louwarm water

1-1,25 L (4-5 k) meel

5 ml (1 t) sout

Sprinkel die gis oor die water en roer tot opgelos. Meng 4 koppies meel en die sout in ’n groot mengbak. Maak ’n dammetjie in die middel. Giet die vloeistof in die dammetjie en gebruik die agterkant van ’n houtlepel om te roer tot ’n deeg vorm. Voeg nog meel by indien nodig. Gooi uit op ’n meelbestrooide oppervlak en knie 8-10 min. Voeg nog meel by indien nodig en knie tot die deeg glad en elasties is. Sit die deeg in ’n groot, oliebesmeerde bak en bedek met kleefplastiek. Laat 1-2 uur in ’n warm  plek rys tot dit verdubbel het. Verdeel die deeg in 6-8 stukke. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in worsrol-vorm en sit op die rooster. Braai dit eers oor middelmatige kole om aan albei kante ’n kors te vorm, en sit dit dan oor koeler kole om gaar te raak. Draai gereeld om tot dit gaar is (sowat 20-25 min., afhangend van die kole se hitte) – dit moet hol klink wanneer daarop geklop word. Die broodjies kan ook in ’n voorverhitte oond teen 180 °C gaargebak word.

Wenk: Koop ’n 1 kg-sak brooddeeg om tyd te bespaar en volg die res van die aanwysings.

Vir die chakalaka-smoor: 

2 uie, in ringe gesny

30 ml (2 e) olie

5 ml (1 t) sterk kerriepoeier

4 knoffelhuisies, in skywe gesny

1 rissie, fyn gesny

1 houer kersietamaties, gehalveer

45 ml (3 e) tamatiepasta

knippie suiker

2 wortels, geskil en grof gerasper

sout en peper na smaak

5 takkies vars koljander, gekap

water

Giet die olie in ’n pan oor medium hitte en braai die uie tot gekaramelliseer. Voeg die kerriepoeier, knoffel en rissie by. Roer sowat ’n minuut sodat die geure kan ontwikkel. Voeg die tamaties, tamatiepasta en suiker by. Geur met die sout en peper. Voeg ’n bietjie water by indien nodig; daar moet ’n sous wees, maar dit moenie loperig wees nie. Voeg die wortels by en roer tot die wortels helderoranje maar steeds bros is. Sny die gaar roosterkoek oop en sit die chakalaka en gebraaide Championship-boerewors binne-in. Sprinkel sout oor indien verkies en sit voor.

Besoek Checkers vir nog heerlike resepte.