Die universiteit het Maandag in ’n verklaring gesê die navorser, dr. Koch Visser, het die verhouding tussen die plant, wat gebruik word om heuningbostee te maak, en borskankerselle bestudeer.

“Ons het agtergekom dat Cyclopia-ekstrak die estrogeengeïnduseerde groei van borskankerselle voorkom; dit teiken en inhibeer estrogeenreseptor-subtipes wat die groei van dié selle aanmoedig,” het Koch gesê.

“Daar bestaan ’n moontlikheid dat dié navorsing vroue met borskanker in die toekoms kan help, veral omdat daar wêreldwyd ’n behoefte daaraan is om die ontwikkeling en vordering van die siekte beter te verstaan ten einde dit doeltreffend te behandel.”

Koch het beklemtoon dat die navorsing nog in ’n vroeë stadium is. Terwyl ander borskankermedisyne blykbaar die risiko vir kanker van die uterus verhoog, het Koch se studie getoon dat die Cyclopia-ekstrak nie daardie newe-effek het nie.

- Sapa