Met elke rolprent het die avonture van Dominic Toretto (Vin Diesel) en sy groep net ál waaghalsiger geraak. Kyk ’n mens na die nuwe lokprent vir Furious 7 sien jy die nuwe film is geen uitsondering nie; motors val uit vliegtuie, en daar word selfs met ’n rooi sportmotor deur die middel van ’n wolkekrabber gery!

Chronologies pas die storielyn van Furious 7 in ná die avonture van Sean Boswell (Lucas Black) in The Fast and the Furious: Tokyo Drift (2006). In Furious 7 kom Toretto en sy groep te staan teen Deckard Shaw (Jason Statham), die broer van Owen Shaw (Luke Evans), wat in die vorige prent dood is.

Die akteur Paul Walker, wat die rol van Diesel se regterhand Brian O’Conner vertolk, is in November 2013 in ’n motorongeluk oorlede.

Sy rol in die film is toe so verwerk dat sy karakter gaan uittree uit die gevaarlike wêreld van motorrenne.

Sy rol is deels voltooi deur sy twee broers, wat op ’n haar soos hy lyk.

Furious 7 word in April vanjaar uitgereik.