Die netwerk het Maandag aangekondig dat Lea Michele, beter bekend as Rachel Berry in die TV-reeks Glee, Frozen se bekende treffer in die laaste episode van die reeks sal sing.

Let it Go is ’n lied in Disney se 2013 animasiefliek Frozen. Die musiek en lirieke is oorspronklik gekomponeer deur Kirsten Anderson-Lopez en Robert Lopez. Die Amerikaanse aktrise en sangeres Idina Menzel is die stem agter die oorspronklike weergawe in haar rol as koningin Elsa.  Heel toevallig het sy ook Rachel se biologiese ma, Shelby Corcoran, in Glee gespeel.

Die liedjie is vanjaar bekroon met ’n Oscar vir die beste oorspronklike lied, en is al etlike male deur ander kunstenaars opgeneem en uitgevoer. Dit is juis daarom dat Glee se vervaardigers besluit het om hul eie weergawe van Let it Go vir die reeks se sesde seisoen op te neem. Lea het Vrydag ’n foto getwiet wat duidelik sinspeel daarop dat sy dié treffer gaan sing. ’n Foto van haar in ’n balrok met van die bekende lirieke as onderskrif het aanhangers aan die gons gehad. Volgens Entertainment Weekly is Lea se skimpe ná ’n paar dae bevestig toe Fox dit Maandag bekendmaak dat sy inderdaad die liedjie in Glee sal sing.

Maar sy was nog baie geheimsinnig toe sy vroeg in September met E! News gesels oor watter Disney-liedjie sy in die finale seisoen van Glee sou sing. Op die vraag of sy kan sê watter liedjie kykers kan verwag, was haar antwoord: “Ek was gisteraand besig met die opname van ons heel eerste Disney-liedjie, ’n baie gewilde liedjie.”

Glee se finale seisoen word tans verfilm en is begin 2015 weer op die kassie.