Sukkel jy om jou kinders voor 'n bord kos te laat stilsit? Hier is 'n baie maklike resep vir gesonde vingerkos waaroor die hele familie gaande sal wees. Dis gesond en geskik vir drie geleenthede - moreoggend se ontbyt, die kinders se kosblikke of 'n lekker ligte middagete. Hier gebruik ons die tipiese frittata-bestanddele, maar bak korslose tertjies in muffinpanne.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 5-10 min

Gaarmaaktyd: 30-40 min

Moet-hê bestanddele

4 murgpampoentjies, in repies gesny (of gekapte spinasie) 1 klein blikkie (340 g) heelpitmielies, gedreineer (of gaar aartappels of oorskiet-pasta) 3-4 pikantrissies (rooi en geel) of ’n rooi soetrissie, in blokkies gesny 2 wiele feta-kaas 8-10 eiers 30 ml gekapte vars kruie soos pietersielie, grasuie, basilie en tiemie sout en peper na smaak 60 ml vars broodkrummels en gerasperde parmesaankaas vir bo-oor vars slaai om mee voor te sit

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Gebruik ’n muffinpan met 6 diep holtes en smeer die holtes baie goed of spuit met kleefwerende kossproei.

Rangskik die murgpampoentjies in ’n sirkelvorm in die muffinholtes en skep die mielies bo-op.

Sprinkel die pikantrissies en die kaas bo-oor.

Klits die eiers en kruie lig saam, geur met sout en peper en verdeel tussen die holtes.

Sprinkel van die krummelmengsel oor en bak 30-40 minute tot gestol.

Sit louwarm voor met ’n vars slaai, olyfolie en balsemieke asyn.