Jy kyk dalk steeds graag heruitsendings van die jeugdige Rachel, Ross, Phoebe, Joey en die res op die kassie. Hoewel van die sterre nie ’n dag ouer lyk nie, kan ’n mens by ander duidelik sien die jare het aangestap. Ons kyk wat hulle nou doen:

Joey Tribbiani (Matt LeBlanc)

Joey Tribbiani (Matt LeBlanc) Foto: Magazine Features/ Getty Images

Matt LeBlanc (50) se loopbaan het ’n heel ander rigting ingeslaan: Dié dommerige rokjagter op Friends is nou die aanbieder van Top Gear.

Phoebe Buffay (Lisa Kudrow)

Phoebe Buffay (Lisa Kudrow) Foto: Magazine Features/ Getty Images

Lisa (54) het haar eksentrieke en soms deurmekaar karakter, Phoebe, agtergelaat en verskyn in silwerdoektreffers soos The Girl on the Train, Neighbors en P.S I Love You.

Rachel Green (Jennifer Aniston)

Rachel Green (Jennifer Aniston) Foto: Magazine Features/ Getty Images

O, hoe het ons ons nie ingeleef by die wegholbruid se aan-af-verhouding met Ross nie! Gelukkig het die lieflike Jen (48) nooit regtig ons skerms verlaat nie. Die tydlose skoonheid het danksy ’n rits lokettreffers een van die bes betaalde aktrises in Hollywood geword. In 2014 was sy derde op Forbes se lys van aktrises wat die meeste geld verdien. Wel gedaan, Jen!

Chandler Bing (Matthew Perry)

Chandler Bing (Matthew Perry) Foto: Magzine Features/ Getty Images

“Ek’s snaaks, nè? Goeiste, jy is ’n deur. Jy hou net van klop-klop-grappies.” 

Dit is die soort grappies waarmee Chandler kykers vermaak het. Ongelukkig was Matthew Perry (48) se lewe heel anders as sy pittige karakter s’n. Hy het net ná die slotseisoen onthul hy worstel met drank- en dwelmverslawing en is talle kere in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem.

In 2013 het hy Perry House geopen, ’n huis waar gerehabiliteerde mans nugter kan leef, het ABC News berig.

Ross Gellar (David Schwimmer)

Ross Gellar (David Schwimmer) Foto: Getty Images

Van die minsame bleeksiel Ross tot Robert Kardashian in die gewilde reeks American Crime Story: The People v. O.J. Simpson – David Schwimmer (50) het ver gevorder sedert sy jare as Rachel se liefdesbelangstelling. 

Monica Gellar (Courteney Cox)

Monica Gellar (Courteney Cox) Foto: Magazine Features/ Getty Images

Ons dink dis veilig om te sê Courteney Cox is niks soos die super-netjiese, mededingende en obsessief-kompulsiewe Monica nie. Op 53 gaan dit voor die wind met haar en maak sy reg om te trou met die Snow Patrol-musikant Johnny McDaid (41). 

Bronne: Mirror.co.uk, People.com, Instyle.com, ABC News