Die leer van die krieketbal tref die wilgerhout van die kolf met ’n knal. Dit swiep deur die lug en beland tussen die oulike jack russell se pote. Brakenjan gryp die bal in sy bek en trippel terug om dit voor sy baas se voete neer te gooi.

Die 1,9 m lange snelbouler Friedel de Wet kyk na die beeldskone blondine wat die bal so gemoker het. Hy is dalk die krieketster in die huis, maar sy vrou, Alecia, kan beslis ook haar man staan met ’n kolf.

‘‘Sy weet baie van krieket af,’’ sê hy laggend. ‘‘Soms ’n bietjie te veel – ons stry gedurig.’’

Krieket is nooit ver van die 29-jarige Friedel se gedagtes af nie, al het ’n rugbesering veroorsaak dat hy nie in die Proteas se laaste toets teen Engeland kon speel nie.

Hy het al omtrent moed opgegee dat hy ooit vir sy land sal speel toe hy hoor hy het die span gehaal. Maar ’n stresfraktuur van een van sy werwels het hom uitgeknikker net toe hy homself begin bewys.

‘‘Boul is nie ’n natuurlike beweging nie, daarom kom beserings voor,’’ sê hy. ‘‘Maar my droom om vir die Proteas te speel is eindelik bewaarheid. Ek het gedink die keurders het ’n fout gemaak toe hulle sê ek is in.

Op 29 begin jy dink jou tyd het gekom en gegaan. Daarom was dit nog wonderliker omdat ek nie verwag het dat ek ooit die oproep sou kry nie.’’ Pleks van die telefoon op te pas, het Friedel toe intussen maar besluit om sy kragte in te gooi by die florerende kwekery wat hy en Alecia ’n paar jaar gelede op hul kleinhoewe in Rustenburg begin het.

Leer Friedel beter ken in Huisgenoot van 21 Januarie.