Die Kaapse rockgroep Freshlyground is toegang tot Zimbabwe geweier en moes hulle toer daarheen kortknip kort nadat hulle Sondag by die Harare Internasionale Lughawe geland het.

Hulle was onderweg van Johannesburg en geen redes is vir die optrede verskaf nie.

Die groep was veronderstel om die slotoptrede te lewer by ’n internasionale fees vir die kunste in Harare, Zimbabwe.

Dit is nie die eerste keer dat ’n optrede van die groep in die land geweier is nie. In 2010 is hulle verbied om in Harare op te tree, slegs ’n paar dae nadat hulle die video Chicken to Change vrygestel het, wat die spot dryf met die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, wat sedert 1980 aan bewind is.

In die liedjie vra hulle hom om weer die held te word wat hy was deur uit sy amp te bedank.

Bron: Sapa