Die Dronkverliefverslaafaanjou-sanger, Fredi Nest, is buite gevaar nadat hy eergister twee hartaanvalle kort na mekaar gehad het.

“Dit was vir ons ’n groot skok, want hy het geen hartprobleme gehad nie,” sê Ian Bossert, Fredi se bestuurder.

Volgens Ian is Fredi se toestand tans stabiel en word daar baie toetse gedoen in ’n hospitaal in Pretoria waar hy opgeneem is.

“Dokters weet nog nie wat presies fout is nie.”

Fredi het die eerste hartaanval Maandagoggend om halfagt gehad en die tweede een om halftwaalf die middag.

Fredi sal die volgende paar dae onder observasie wees en sy volgende konsert is eers op 15 September by die Darling-blommefees.

-Joshua Carstens (Johannesburg-kantoor)