Fred van der Vyver het nog nie gaan lê nie. Dié 31-jarige aktuaris wat in November 2007 ná ’n opspraakwekkende 10 maande lange verhoor vrygespreek is van die moord op sy meisie, Inge Lotz, wend hom nou tot die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekommissie. Hy hoop hy sal so vergoeding by die Suid-Afrikaanse regering kan kry.

In 2011 het regter Anton Veldhuizen bevind Fred is wel kwaadwillig deur die polisie vervolg en ’n eis van R46 miljoen aan hom toegestaan, maar die appèlhof in Bloemfontein het vanjaar die bevinding tersyde gestel waarna die Grondwethof in Mei vanjaar sy stryd om vergoeding gestuit het.

Nou, bevestig Ryan Tutt, ’n prokureur van die Brian Lowe-regsfirma in Kaapstad, dat hy en Fred se voormalige regsverteenwoordiger, adv. Dup de Bruyn, begin November ’n klag by die VN se Menseregtekommissie ingedien het. “Fred het ’n individuele klag by die Menseregtekommissie van die VN onder die Opsionele Protokol tot die Internasionale Verdrag oor Siviele en Politiese Regte (die IVSP) gelê,” sê Ryan, en voeg by Fred wil nie verder kommentaar lewer nie. Ryan kan ook nie meer details oor die inhoud van dié klag bekendmaak nie. Dup wou nie nog kommentaar lewer nie omdat die saak hangende is. Dié nuwe ontwikkeling kom midde ’n pleidooi van Inge se pa, prof. Jan Lotz, aan die direkteur van openbare vervolging om Fred weer as ’n moontlike verdagte in sy dogter se moordsaak terug te bring. (Fred ek soek antwoorde, 28 November).

Jan wou by navraag nie kommentaar lewer oor Fred hom tot die VN gewend het nie.

Op die VN se webtuiste word verduidelik dat enigeen wat in ’n land woon wat aan die VN behoort en hul reëls en regulasies onderskryf, so ’n klag aanhangig kan maak. Die IVSP dek ’n wye reeks siviele en politieke regte soos die reg op lewe, die reg op ’n regverdige verhoor, vryheid van spraak, gelykheid voor die reg en die bekamping van diskriminasie.

Hulle het nog nie bevestiging gekry dat die klag ontvang is nie en weet ook nie hoe lank dit sal duur om te hoor of dit wel aangehoor sal word en wanneer nie, sê Ryan.

Gegewe die groot aantal klagte wat deur die komitee aangehoor moet word, kan dit jare duur tot die paneel van 18 kenners, wat drie keer per jaar byeenkom, ’n klag aanhoor en uitspraak lewer.

Wanneer uitspraak oor ’n klag gelewer word, kan daar geensins teen die komitee se besluit geappelleer word nie en as ’n reël is hul beslissing bindend. Wat daarna met die saak gebeur, hang af van die besluit wat geneem is.

Indien die komitee besluit dat daar ’n oortreding deur ’n staatsparty was, word die staat die geleentheid gegun om binne ’n gegewe tydperk inligting te verskaf oor watter stappe gedoen sal word om die bevinding en aanbevelings te bevraagteken.

Die komitee se bevindings bevat aanbevelings vir die staat, maar is nie wetlik afdwingbaar nie.

- Almari Wessels