Adv. Dup de Bruyn SC het in Desember ’n eis van R4,3 miljoen in die hooggeregshof in Grahamstad ingestel. In Augustus 2011 het die hooggeregshof in Kaapstad in Fred se guns beslis nadat hy die minister vir R46 miljoen se skade gedagvaar het nadat hy in 2005 in hegtenis geneem is vir die moord op sy meisie, Inge Lotz. Hy het later dié eis in die appèlhof verloor.

Inge se lyk is in Maart 2005 op ’n rusbank in die sitkamer van haar woonstel op Stellenbosch gevind. Sy het kopbeserings, wat met ’n stomp voorwerp toegedien is, en steekwonde aan haar bors gehad. Fred is drie maande later vir moord in hegtenis geneem en op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Verskeie versoeke van sy verdedigingspan dat sy vervolging gestaak word, is verwerp. Regter Deon van Zyl en twee assessors het Fred ná ’n hofsaak van nege maande vrygespreek. Dup het Fred in die moordsaak en siviele geding verteenwoordig.

Dup noem in sy eis dat hy en Fred se pa in September 2005 ’n mondelinge ooreenkoms aangegaan het, onder meer dat hy Fred se verdedingspan sou lei. Dup het “voltyds” van Julie 2006 tot November 2007 aan Fred se saak gewerk.

In Januarie 2008 het Dup en Fred se pa weer mondelings oorgekom dat die uitstaande bedrag sowat R2,6 miljoen beloop het en die rente sowat R3 miljoen, berig die koerant.

Fred se pa het aan Dup gesê dat sy enigste oorblywende bates ’n familieplaas en ’n belang in ’n tamatieboedery was. Dup voer in hofstukke aan hy wou nie hê Fred se pa moes die familieplaas verloor nie, en hy het ingestem om hom uitstel vir die betaling te gee.

Op 31 Julie verlede jaar en nadat die R900?000 in ag geneem is wat Fred pa reeds betaal het, was die uitstaande bedrag R3?931?231,16 en die belasting daarop R373?641,49, volgens Beeld.