Talle paaie aan die Oos-Rand en elders in Gauteng is steeds gesluit nadat frats-oorstromings hierdie omgewing Woensdagmiddag vanaf halfvyf getref het. Intussen is die Johannesburgse rampbestuursentrum besig om die omvang van die skade te bepaal.

Honderde motoriste wat in spitstyd op pad huis toe was, het vreesaanjaende oomblikke beleef toe paaie en ondergrondse parkeergebiede oorstroom. Die omgewing van die N3 en die R21 naby die O.R. Tambo-lughawe het die ergste deurgeloop toe talle motors van die snelweë af gedryf en ander in die water vasgekeer is.

Midde-in hierdie chaos was daar ook heldedade, soos die twee vragmotorbestuurders wat sowat 20 motoriste, wie se voertuie deur die watervloed oorweldig is, na veiligheid agter op hul vragmotorbak gehelp het.

Kyk: 21 ongelooflike foto’s en videos van Woensdag se fratsvloede

Die organisasie SA Long Distance Truckers het hierdie foto op hul Facebook-blad gelaai waarvan meer as 25 000 gebruiker binne vier uur gehou het en wat tallose kere gedeel is.

Teen Donderdagoggend is etlike paaie in die omgewing, onder meer die R55 tussen Kyalami en Waterfall, steeds gesluit omdat dit onbegaanbaar is. Jan Smutsrylaan is ook by die Johannesburgse Dieretuin gesluit nadat ’n buitemuur van die dieretuin ineengestort het. Die Gautengse provinsiale regering het in ’n verklaring gesê minstens ses mense is in die oorstromings dood. Die provinsie het ook die Johannesburgse rampbestuursentrum gevra om spesiale bystand te verleen aan plekke soos die informele nedersetting Alexandra, wat langs die Jukskeirivier geleë is.

Die organisasie Gift of the Givers het gisteraand ingespring om vermiste mense te help soek, maar moes teen elfuur hul reddingsoperasie staak omdat die stygende water van die Jukskei dit te gevaarlik gemaak het. Hul spanne was Donderdagoggend douvoordag in Alexandra, waar hulle warm etes aan sowat duisend inwoners verskaf het.

Intussen lyk dit asof Gautengers hulle kan staal vir nog storms. Volgens die weerdiens kan sterk wind en donderstorms dele van Gauteng later Donderdag en Vrydag weer tref.

Hael en swaar reën word in ’n kort tyd verwag.

Die gure-weer sal glo teen Sondag opklaar, maar die weerburo waarsku dat reënval weer vanaf Maandag in Gauteng sal voorkom.