Greta Greene is Maandag oorlede, ’n dag nadat sy en haar ouma deur bakstene getref is wat van die fasade van ’n verpleegsterstehuis se agtste verdieping afgeval het.

Die kind is Sondag in ’n kritieke toestand na die naaste hospitaal gehaas nadat verpleegsters wat uit die tehuis gehardloop het, haar probeer bybring het.

Haar ouma, Susan Frierson (60), het ernstige beenbeserings opgedoen en is na dieselfde hospitaal geneem.

’n Bouspan het Maandag inderhaas takelwerk by die gebou opgerig. Die gate waar die twee bakstene uitgeval het, was nog sigbaar.

Volgens ’n bron na aan die ondersoek bekyk die ondersoekspan nou die maatskappy wat in 2011 die gebou se fasade nagegaan het.

In New York moet die buitekant van geboue hoër as ses verdiepings elke vyf jaar nagegaan word.

Bronne: New York Post, News.com.au