Die 23-jarige Ailish Sheehan van Ierland het saam met haar spanmaats Rebecca Edwards, Annie Withers en Gillian Cooper, die bronsmedalje tydens die gesogte byeenkoms in Poznan, Pole, verower.

Enkele ure nadat die vierstuks hul medaljes op Sondag, 4 September, ontvang het, het sake afgryslik skeefgeloop. Ailish, wat deur verskeie mense as merkwaardig, geestelik sterk, propvol aansteeklike energie en durf bestempel word, het in 'n fratsvoorval geval. Sommige bronne dui aan dat sy op 'n voetpaadjie geval het terwyl ander weer noem dat dit 'n sypaadjie was. Maar anders as wat normaalweg net 'n paar skraapmerke en gekneusde ego vir talle sou wees na só 'n val, het Ailish "katastrofiese beserings" in die vorm van 'n ernstige kopbesering opgedoen. Sy het in 'n koma verval en is in die hospitaal opgeneem. Vyf dae later het sy gesterf.

Uit alle hoeke van die roei-wêreld is daar met skok van haar heengaan verneem. Selfs die president van Ierland, Michael Higgins, het sy medelye met haar gesin uitgespreek en haar dood as 'n wrede slag vir almal wat haar roeivermoëns bewonder het, bestempel.
Hy het verder aangekondig dat die Ierse vlag Maandag halfmas voor stadsraadsgeboue in Limerick en by Merchant's Quay sal wapper.

Voordat Ailish haar grootliks op roei toegespits het, het sy ook rekords in gewigstoot en spiesgooi op skoolvlak opgestel.

Bronne: irishtimes.com, independent.co.uk, theguardian.com, independent.ie, newstalk.com