Emmanuel Macron (39) is as die jongste president van Frankryk verkies met 65,5% van die stemme teenoor Marine Le Pen se 34,5%.

[caption id="attachment_171676" align="alignnone" width="600"]Foto: Twitter/ @EmmanuelMacron Foto: Twitter/ @EmmanuelMacron[/caption]

Nie net is Macron as die jongste president nog in Frankryk verkies nie, maar hy sal ook die eerste president van buite die twee tradisionele hoofpartye sedert die moderne republiek in 1958 wees, berig BBC.

Volgens The Guardian sal die minister van binnelandse sake, Matthias Fekl, eers Maandag die uitslag van die presidensiële verkiesing amptelik bekend maak. Die eerste uitslae wat om 20:00 Sondagaand (Franse tyd) bekendgemaak is, is slegs ramings gebaseer op die aanvanklike telling van ’n paar honderd stemlokale wat ’n uur voorheen gesluit is.

Na afloop van die verkiesing het Macron gesê dat ’n nuwe blad in die Franse geskiedenis omgeblaai word. "Ek wil die blad van hoop en vertroue wees," het hy gesê.

Macron beloof om in sy vyf jaar as president teen die magte van verdeeldheid te veg wat Frankryk ondermyn.

Hy het luidens berigte ’n telefoniese gesprek met Le Pen gehad waarin sy vir hom alle voorspoed toewens vir die uitdagings wat volg.

Le Pen het in ’n toespraak die 11 miljoen mense wat vir haar gestem het, bedank en gesê die verkiesing wys ’n verdeling tussen "patriotte en globaliste".

President François Hollande het vir Macron gelukgewens en sê die uitslag wys die Franse mense wil rondom die "waardes van die republiek" verenig.

Bronne: BBC, France24.com, NYTimes.com