’n 33-jarige Franse man is Donderdag tronk toe gestuur nadat hy sy eksmeisie 21 807 keer genader het. Hy het in retrospek erken dit was dom van hom.

Die naamlose verweerder, wat die oproepe gemaak het om by die vrou aan te dring dat sy hom bedank nadat hy hul woonstel opgeknap het, is ’n vonnis van 10 maande opgelê – waarvan ses opgeskort is – en moet ’n boete van sowat R13 650 betaal.

Hy moet ook psigiatriese behandeling ondergaan en mag geen kontak hê met die vrou wat hy geteister het nie, het ’n prokureur verbonde aan die saak aan die Franse nuusagentskap AFP gesê.

Die verweerder, van Rhône in die suide van Frankryk, het reeds verantwoordelikheid aanvaar vir die stortvloed oproepe en teksboodskappe wat hy oor ’n tydperk van 10 maande gestuur het, en het ’n vorige versoek aanvaar om kontak met sy eks te staak.

Hy is in die verlede vir depressie gehospitaliseer, en het gesukkel om dit te aanvaar toe sy meisie die verhouding in 2011 beëindig. Hy het aangedring op vergoeding vir werk wat hy aan hul woonstel gedoen het.

“Ek het toe gemeen as sy die geld terugbetaal, of ten minste dankie sê, sal ek die oproepe staak,” het hy aan die hof in Lyon vertel.

Die oproepe het aangehou; sowat 73 per dag.

“Sy het haar telefoonlyn probeer blokkeer, maar hy het haar ouers en haar werkplek gebel,” het Manuella Spee, ’n prokureur vir die klaer, gesê. Sy is ’n 32-jarige onderwyseres, wat ook naamloos bly.

Die teistering het eindelik opgehou toe sy dankie sê tydens ’n vergadering wat deur ’n mediator gereël is.

“Agterna beskou, vertel ek my dat dit dom was,” het hy Donderdag aan die hof gesê.

Hy het gesê hy wou weer gaan studeer en ’n regsassistent word, en het bygevoeg hy het ’n “passie vir skryf”.

Bron: Sapa-AFP /mm