’n Blogger het boonop uitgewys dat dié smeulende foto van die gewese paartjie amper nes Huisgenoot se jongste voorblad lyk, waarop Francois en Chelsea poseer.

Die Kaapse model het die kiekie van haar en Francois op haar Facebook en Instagram-profiel gedeel en die glanspaar het so verlief en sexy gelyk dat ons geen ander keuse gehad het as om dié stomende foto van die twee op ons voorblad te sit nie.

Jacques du Preez, die fotograaf wat hulle gekiek het, is ’n vriend van Chelsea. Hy woon in Pretoria. Hy het vroeër vandeesmaand ’n toetsfotosessie vir sy portefeulje met die blonde bom gedoen terwyl sy in Pretoria by Francois gekuier het. “Ek wou iets ’n bietjie natuurlikers doen,” vertel Jacques. Tydens die fotosessie was Francois ook op stel om Chelsea te ondersteun, vertel hy. “Ek het toe vir Franna gesê: ‘Spring vinnig in vir ’n shot.’ ” Dis hoe die voorbladfoto toe geneem is.

Chelsea is altyd baie pret om mee te werk, sê Jacques, wat ook ’n aanbieder is by die radiostasie Jacaranda FM. “Sy is ’n uiters professionele model en die maklikste mens om mee te werk. Ek en Franna kom ook al ’n rukkie saam. Die tweetjies is dol oor mekaar; ’n mens kan dit sommer sien.”

Lees alles oor die duifies se romanse in ons jongste uitgawe, wat tans op die rakke is!