Die familie se huis in Sheffield, Suid-Yorkshire, het verlede April aan die brand geslaan nadat ’n foutiewe foonlaaier vlamme laat ontstaan het. Die brand het vermoedelik begin kort nadat die familie gaan slaap het. Die brandbestryders het die brand as “verwoed” beskryf en die “moeilikste” waarmee hulle tot dusver te kampe gehad het, met temperature “van bo 1 000 °C”. Hulle het bygevoeg dit was die grootste lewensverlies in ’n brand die afgelope ses jaar.

Eers het ek nie gedink dis ’n brand nie. Ek het gedink dis ’n speelding wat flits.

Sadaf Parwaiz het haar foon in die woonkamer op die grondverdieping laat laai. Sy het blykbaar vlamme by die elektriese sokke sien uitskiet toe sy haar foon wou gaan haal.

“Ek het ’n flikkering naby die rusbank gesien waar die elektriese goed was. Eers het ek nie gedink dis ’n brand nie. Ek het gedink dis ’n speelding wat flits,” het sy gesê.

Sadaf het die brand met ’n kussing probeer blus, maar kon nie die vlamme doodkry nie. Toe roep sy haar ma, Shabina Begum, om te kom help.

“Sy het dit met haar hande probeer blus en toe na die kombuis gegaan om water te gaan haal, maar ek het nie gesien waar sy dit gegooi het nie.

Die lyk van die sewejarige Amaan Parwaiz Kayani is onder sy stapelbed gevind waar hy vermoedelik vir die brand probeer wegkruip het.

Sy suster Minahil (nege weke), broer Adyan (9), ouma Shabina Begum (53) en tante Anum Parwaiz (20) het ook in die brand omgekom.

Bronne: itv.co, mirror.co.uk, metro.co.uk