Amerika en Rusland is alewig nes twee bedorwe kinders – wat die een doen, moet die ander doen . . . net beter, vinniger en verder. Natuurlik is hierdie ongesonde wedywering nie net op moederaarde van toepassing nie; die ruimteresies duur al dekades, nog voor lande soos Indië en China hul stuiwer in die armbeurs gegooi het. Joeri Aleksejewitsj Gagarin was ’n vlieënier en ruimtevaarder. Hy was nie net die eerste Rus in die ruimte nie, maar ook die eerste mens toe hy op 12 April 1961 met die Wostok 1-ruimtetuig om die Aarde gewentel het. Dit het 1 uur 48 minute geduur.

Die voormalige fabriekswerker het ná sy ruimterekord sterstatus bereik en verskeie besoeke aan ander lande gebring.

Op 11 Julie 1961 is hierdie onderhoud van hom met die Engelse uitsaaier BBC gebeeldsend:

Terwyl Joeri die eerste Rus in die ruimte was, was Belka en Streika die eerste lewende wesens wat in ’n wentelbaan om die Aarde was wat daarna weer veilig hierheen teruggekeer het. Die twee honde is op 19 Augustus 1960 deur die Russiese ruimteagentskap die ruimte ingestuur. Saam met hulle aan boord van Spoetnik 5 was ’n haas, 40 muise, 2 rotte en 15 flesse met vrugtevlieë.

Streika het later ma van ses hondjies geword. Een van hulle is aan die destydse Amerikaanse president, John F. Kennedy, gegee as ’n geskenk vir sy kinders.

Hulle was egter nie die eerste diere wat deur moedertjie Rusland die lug in gestuur is nie. Laika, glo ’n basterbrak wat die Amerikaners later Muttnik sou noem, is op 3 November 1957 in ’n metaalhouer onderaan Spoetnik 2 gelanseer. Sy het nooit weer teruggekeer Aarde toe nie. In April 1958 het die ruimtetuig in die buitenste atmosfeer uitgebrand.

Dezik en Tsigan (“Sigeuner”) is op 15 Augustus 1952 gelanseer. Hulle was die eerste lewende wesens wat tot kort duskant ’n wentelbaan gegaan het. Vroeg September dieselfde jaar is die twee weer die ruimte ingestuur.

Maar hierdie keer was hulle nie so gelukkig nie. Al wat dié vlug oorleef het, was ’n dataopnemer.

Jammer, Felix Baumgartner, wat daardie asemrowende en bo-menslike mylpaal bereik het om vanuit die stratosfeer te spring, Tsjernoeska (ook bekend as Blackie) van die Russiese ruimtevaartagentskap het reeds in 1961 die stratosfeer bereik. Vergeleke met die stand van die tegnologie destyds teenoor wat vandag beskikbaar is, was dit voorwaar ’n enorme prestasie.

Die Amerikaners het reeds in 1947 met lewende wesens in die ruimte geëksperimenteer. Die eerste proefkonyne was vrugtevlieë wat op 20 Februarie 1947 die lug ingestuur is. Hulle het binne 3 minute en 10 sekondes die hoogte van 109 km bereik. Die Blossom-kapsule het suksesvol ontkoppel en die vrugtevlieë het hul sending oorleef.

Ongelukkig het Albert, nadat hy sowat 63 km bereik het, gesterf toe sy valskerm weier om te ontplooi. Dieselfde lot het Albert IV op 12 Desember 1949 getref ná wat as ’n “suksesvolle vlug” bestempel is.

[caption id="attachment_124605" align="aligncenter" width="600"]Albert II was die eerste aap in die ruimte. Albert II was die eerste aap in die ruimte.[/caption]

Die volgende probeerslag was ’n muis. Maar die vuurpyl het gedisintegreer en hy het dit nie oorleef nie. Daarna sou talle muise die ruimte ingestuur word.

Able, ’n Amerikaans gebore rhesus-aap, en Baker, ’n Suid-Amerikaanse eekhoring-aap, word opgepik ná hul suksesvolle ruimtereis op 28 Mei 1959. Able het op 1 Junie tydens ’n operasie beswyk. Baker is in 1984 in die ouderdom van 27 jaar aan nierversaking dood.

Ham was die eerste sjimpansee wat deur die Amerikaners aan ruimtevaart blootgestel is. Sy naam was ’n afkorting vir “Holloman Aero Med”. Ham was oorspronklik van Kameroen in Wes-Afrika. Tydens sy vaart op 31 Januarie 1961 het hy ’n hoogte van 252 km en ’n spoed van 9 426 km per uur bereik.

Ham het ook 6,6 minute van gewigloosheid tydens sy 16,5 minuut lange ruimte-ervaring beleef. Sy suksesvolle ruimtereis het die weg gebaan vir Amerika se eerste ruimtevaarder: Alan B. Shephard jr. aan boord van die Freedom 7-ruimtetuig op 5 Mei 1961.

Die vlug, duskant wentelbaanstatus, het 15 minute geduur. Dit word vandag nog as ’n groot triomf vir Nasa, die Amerikaanse ruimteagentskap, beskou.
Van die eksperimentele begin met vrugtevlieë, muise, rotte, ape, sjimpansees en ongetwyfeld ook mense, is die sirkel voltooi met die eerste mens op die maan.

Op 20 Julie 1969 uiter Neil Armstrong die onvergeetlike woorde van die maan af en dit eggo na alle uithoeke van die Aarde: “Een klein tree vir die mens, een reusesprong vir die mensdom.”

Wat volgende? Wie weet, Mars is nie so vergesog as wat dit ’n dekade of twee gelede, selfs meer onlangs, nog geglo is nie.

Psst...so gepraat van die ruimte

Het jy al jou kaartjies bespreek vir Gateway to Space: Die uitstalling? Gaan loer hier vir ’n agter-die-skerms-kykie en bespreek vandag nog jou kaarjie by Computicket.

GTS colour on black HG

Bronne: http://history.nasa.gov/animals.html, wikipedia.com, history.com

Ook op Huisgenoot.com

Kan jy glo? Dié nege vreemde goed gebeur in die ruimte met ruimtevaarders

Bel ons binnekort vir ET? Stephen Hawking meen beslis so

Dié foto van Suid-Afrika vanuit die ruimte sal jou asem wegslaan

En daar vertrek die sonaangedrewe Solar Impulse 2 vir ’n reis om die wêreld!

Houston, ons het ’n superaanhanger! SA man besoek Nasa meer as 60 keer