Ag nee! ’n Voormalige vriend van die akteur Ryan Reynolds (38) en sy vrou, Blake Lively (27), het glo ’n skootrekenaar gesteel waarop talle foto’s van hul drie-maande oue dogter, James, is.

Die paartjie is bekend daarvoor dat hulle baie privaat is en hulle het tot nou toe nog bewustelik geen kiekies van hul eersteling met die wêreld gedeel nie.

Die dief probeer glo nou om sowat 15 foto’s te verkoop wat die paartjie net aan hul hegte vriende en familie versprei het. Op een foto pryk Ryan glo kaalbors terwyl hy sy kleinding vashou. Op dié foto dra klein James ’n hospitaalbandjie met haar geboortedatum daarop. Volgens die bandjie is hul eersteling op 17 Desember 2014 gebore. Op ’n ander kiekie suig die kleinding haar pa se vinger terwyl sy in haar wiegie lê.

Die paartjie is bekend daarvoor dat hulle baie privaat is en hulle het tot nou toe nog bewustelik geen kiekies van hul eersteling met die wêreld gedeel nie.

Dit is nie die eerste keer dat Blake haar te midde van ’n fotoskandaal bevind nie. In 2011 is naakfoto’s van die voormalige ster van die televisiereeks Gossip Girl ook aanlyn versprei, maar sy het toe beweer dié foto’s is vals.

Arme Ryan. Dit is beslis nie ‘n goeie tyd vir dié akteur nie. Luidens berigte het ’n steelfotograaf Vrydag die ster raakgery terwyl hy in ’n ondergrondse parkeerarea van die luukse Shangri-La Hotel in sy Kanadese geboortestad, Vancouver, gestap het. Hy is egter ongedeerd.

‘‘Die man het van die toneel gevlug. Ryan is okei,’’ het sy woordvoerder Leslie Sloane gesê.

Ryan is tans in Vancouver om die fliek Deadpool te verfilm.

BRON: RADARONLINE.COM, INTOUCHWEEKLY.COM, DAILYMAIL.CO.UK