Minstens 600 mense was binne die 120 woonstelle in die Grenfell Tower-woonstelblok van 24 verdiepings toe die brand begin.

Ongeveer 50 mense is beseer en na nabye hospitale gebring.

Dit is nog nie bekend hoeveel mense dit lewend uit die brandende gebou gemaak het nie.

Meer as 200 brandbestryders en 40 brandweerwaens is op die toneel om die vlamme te blus wat deur die toringblok versprei het. Daar is ook ongeveer 20 ambulansspanne en 100 polisiebeamptes na die toneel gestuur om die nodige nooddienste aan die slagoffers te verskaf.

Die brand het Woensdagoggend omstreeks eenuur uitgebreek. Dit het teen agtuur steeds gewoed.

Die oorsaak daarvan is nog onbekend.

Volgens inwoners wat gelukkig was om uit die gebou te ontsnap, het hul brandalarms nie afgegaan nie en was hulle aangesê om binne hul woonstel te bly terwyl die brand gewoed het, berig The Telegraph.

Hulle het vertel van mense wat vasgevang was en om hulp geskree het. Ander het hul kinders buite vensters gehou en sommige was so desperaat dat hulle uit boonste verdiepings gespring het.

Londen se brandkommissaris, Dany Cotton, het ’n aantal sterftes bevestig.

The Guardian berig dat die Grenfell-aksiegroep, ’n groep inwoners wat na die belange van die Grenfell-gemeenskap omsien, al drie jaar gelede gekla het oor veiligheidsgeriewe wat nie op peil is nie. Hul waarskuwings oor ’n moontlike “katastrofe” het egter op “dowe ore” geval.

Een oorlewende het die angswekkende ervaring aan Sky News beskryf.

“Dit was eenuur die oggend en ek wou toilet toe gaan om te urineer. Ek het ’n vreemde geluid buite gehoor. Ek het uitgeloer en brandbestryders, die polisie en brandweerwaens oral gesien. Toe ek aan ’n beampte vra wat aangaan, het hy geskree: ‘Brand! Kom uit!’ ”

Dertig omliggende woonstelle is deur die polisie ontruim om die veiligheid van inwoners te verseker.

Bronne: The Guardian, The Telegraph, News.sky.com