Een van die organiseerders van die grootskaalse betogings sê hulle beoog om die G20 geheel en al te ontwrig.

“Dit is nie reg dat net ’n paar lande kan besluit wat met die res van die wêreld gebeur nie,” het hy aan CNN gesê.

Ander weer het ’n appeltjie met die G20 te skil oor kapitalisme en aardverwarming.

Van die onderwerpe wat op die byeenkoms bespreek gaan word, is juis klimaatsverandering, terrorisme en migrasie.

Minstens 11 polisiebeamptes en tientalle betogers is sover beseer tydens die betogings wat gereeld in gewelddadige voorvalle ontaard. Tot dusver is 44 betogers in hegtenis geneem.

Vrydag het van die betogers sittende ’n pad in die stad versper. Hul doelwit is om van die G20-leiers te verhoed om die byeenkoms te bereik. Radelose polisielede het hulle een-een opgetel en uit die pad verwyder.

Talle waarnemers beskryf die situasie as "buite beheer". Sowat 15 000 polisielede is reeds ontplooi. Versterkings word nou ingeroep, onder andere 300 wetstoepassers uit die hoofstad, Berlyn.

Organiseerders van die betogings het gesê hulle het geen probleem om polisieversperrings rondom afgesperde gebiede te bestorm nie.

Talle motors is in die stadsbuurt Altona aan die brand gesteek.

Vandag sal ook die eerste keer wees dat Donald Trump met die Russiese president, Wladimir Poetin, sal bladskud vandat hy as die Amerikaanse president verkies is.

Poetin se aankoms vroeër vandag.

Trump het op Twitter sy opgewondenheid gedeel om met al die wêreldleiers bymekaar te kom, en natuurlik dan ook sy ontmoeting met Poetin.

Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, het gesê die twee het blad geskud “en sal mekaar binnekort afsonderlik ontmoet".

Donderdag

Traanrook, waterkanonne, pepersproei en knuppels is teen die oproeriges ingespan nadat die polisie met bottels, bakstene en ander voorwerpe geteiken is.

Na verwagting sal meer as 100 000 betogers vir die duur van die byeenkoms (tot Saterdag) in Hamburg teenwoordig wees. Sowat 8 000 van hulle is deel van Europa se gewelddadige ver-linkse vleuel.

Bronne: aljazeera.com, rt.com, theguardian.com, cnn.com