Nuwe foto's en ’n video wat tans wyd in die sosiale media gedeel word, wys na bewering hoe ’n hoender tydens Stellenbosch Universiteit se manskoshuis Helshoogte se jaarlikse Hoenderdag drank en sigarette gevoer word.

Hierdie dag, waarvoor die uitnodiging lui "Ons maak dit weereens een wat ons dalk nie wil onthou nie!", het op 18 Februarie plaasgevind.

Wel, hierdie is gewis een van die dae wat om verskeie ander redes wel onthou gaan word. En dis allesbehalwe die moeder van alle babelasse . . .

In die foto's en video probeer ’n grinnikende man om ’n swart hoenderhaan onder meer drank te voer en ’n sigaret te laat “rook”. Wat volg, is afgryslik.

Waarskuwing: Die beeldmateriaal mag sensitiewe kykers ontstel.

Eers is die hoender gemaak rook.

Talle omstanders was duidelik ontsteld deur die man se gedrag.

Volgens ’n aparte inskrywing is die hoender ook alkohol toegedien.

Ná alles gooi die jong man die hoender die lug in terwyl omstanders in afgryse toekyk.

Die koshuis het op hul Facebookblad ontken dat die persoon wat die hoender gegooi het, een van hul inwoners is. Hulle noem ook voorts dat inwoners van die koshuis onmiddellik opgetree het om verdere mishandeling van die hoender te keer.

Die man wat die hoender onder meer die lug ingegooi het, is na bewering ook aangegee vir dieremishandeling.

“Die Universiteit van Stellenbosch (US) neem kennis van die bespreking op sosiale media platforms oor die mishandeling van ’n hoender by ’n koshuisgeleentheid op Saterdag, 18 Februarie," het die universiteit se woordvoerder, Martin Viljoen, in ’n voorlopige verklaring gesê.

"Die universiteit veroordeel wreedheid teenoor diere ten sterkste en ondersoek die voorval."

Volgens Martin is dit nog nie bevestig of die betrokke man ’n Helshoogte-inwoner of selfs ’n student aan die unibversiteit is nie."

Martin het aan Huisgenoot gesê Maties sal later vandag ’n volledige verklaring uitreik.