Teen ’n marmertrap op, agter ’n swaar houtdeur, heers ligte paniek. Die bruid is gereed, haar hare en grimering volmaak. Maar die bruidegom . . . wel, hy is laat.

Sarah-Kate Seaward tel haar foon op. ‘‘Babe, waar is jy?’’ gil sy. ‘‘Van wanneer af wag die bruid vir die bruidegom?’’

Op daardie oomblik kom Darren Scott ingehuppel met ’n breë glimlag op sy gesig en ’n vlootblou pet op sy kop – ietwat vreemd by sy roomkleurige chino’s van Woolies en bont toeknoophemp.

‘‘Dink jy sy sal die hoed raaksien?’’ vra die aanbieder van Jacaranda FM en SuperSport, en knipoog.

Sarah-Kate gee hom een kyk en gil: ‘‘Baaaaaby, nee!’’ en bars dan uit van die lag. Hulle is al sewe jaar saam en die geterg is een van die geheime van ’n gelukkige verhouding wat vandag voor 70 vriende en familelede ’n huwelik word.

Maar eers is dit tyd vir die foto’s. Die paar steur hulle nie veel aan tradisie nie en het besluit om die troufoto’s voor die plegtigheid te laat neem. Dit beteken, ewe ontradisioneel, dat Darren sy toekomstige vrou in haar rok sien voor sy kansel toe stap.

En hy kan sy oë kwalik van haar wegskeur. Sy lyk asemrowend in ’n ivoorkleurige, moulose rok met ’n bolyfie versier met Swarovski-kristalle en ’n antiek-sjiek romp van lae organza.

Die rok lyk weelderig, maar het ’n beskeie R3 250 gekos – hoofsaaklik omdat Sarah-Kate dit al ses jaar gelede gekoop het toe Darren haar die jawoord gevra het.

‘‘Dis die langste bêrekopie nog,’’ skerts sy.

Nou het die groot dag uiteindelik aangebreek. En al is dit in die middel van die week, was die gaste maar te gewillig om te ry van Johannesburg na The Orient, ’n boetiekhotel in die Marokkaanse styl naby die Hartbeespoortdam.

Lees meer oor Darren se troue en sien die foto’s in Huisgenoot van 31 Desember.