'n Gru-foto van ‘n sterwende prinses Diana, wat kort na haar motorongeluk geneem is, sal glo in ‘n omstrede dokumentêre film vertoon word by die Cannes-filmfees.

Die swart-en-wit-foto is deur paparazzi geneem sekondes nadat die swart Mercedes Benz waarin die prinses gery het, in Frankryk teen ‘n pilaar gebots het.

Die dokumentêr, Unlawful Killing, is gefinansier deur Diana se kêrel, Dodi al-Fayed, se pa, Mohammed, en is die breinkind van die Britse akteur en regisseur, Keith Allen (Lilly Allen se pa).

Die fliek ontbloot na bewering ongerymdhede wat plaasgevind het tydens die ondersoek na prinses Diana se dood.

Die koninklike familie is glo briesend oor die feit dat die foto gewys sal word.

Dodi se pa was glo nie bewus van die feit dat die foto in die dokumentêr verskyn nie. Hy probeer glo nou alles in sy vermoë om te verhoed dat die foto gebruik word.