’n Aangrypende foto, deur sy fotograaf-vrou geneem, van ’n pa wat sy siek seun in sy arms vashou in die stort, is bestempel as ’n “ware voorbeeld van ouerliefde”.

Heather Whitten, van Arizona in Amerika, het die foto op Facebook gedeel van haar man, Thomas, wat hul seuntjie, Fox, vertroetel.

Ongelukkig druis die foto in teen sommige van die streng reëls oor naaktheid van die sosiale netwerk en dis waarom Facebook dit herhaalde kere afgehaal het.

Volgens The Sun is die foto in 2014 geneem toe Fox (destyds net jonger as een jaar) voedselvergiftiging gehad het. Hy was naar en het diarree gehad en Thomas het hom in die stort ingeneem sodat hy hom kon kalmeer en skoonmaak.

“Thomas het ure in die stort deurgebring met Fox, ten einde sy koors af te bring en sodat die braaksel en diarree elke keer van hul albei kon afspoel,” het Heather geskryf. Fox het ’n tweelingsussie, Persephone (nou 2), en twee ander sussies, Lillian (7) en Leena (4).

“Dit was ’n moeilike oomblik vir ons as ouers. Terwyl ek by hulle in die stort gesit het, was ek oorweldig deur die toneel wat voor my afgespeel het. Hierdie man, eggenoot en pa.

Lees ook: Woede ná kelnerin wat in hoëhakskoene moes werk foto van haar bebloede voete deel

“Hy was so geduldig en liefdevol en so sterk met ons seuntjie op sy skoot. Sy gefluisterde trooswoorde aan Fox, dat hy oukei sou wees en dat Thomas vir hom sou sorg, was so eerlik.”

Volgens Heather moes sy bloot die oomblik vaslê. “Ek het uitgestap, my kamera gegryp en teruggekeer om ’n paar foto’s van die toneel te neem en natuurlik het ek dit gedeel.

“Ek was verstom oor hoeveel mense die werklike storie gemis het of wat nie eens verby die naaktheid gekyk en die ware feite raakgesien het nie.”

Heather verduidelik voorts diegene wat kommentaar gelewer het, het gereken dit het ’n grens oorskry en behoort nie in die openbaar vertoon te word nie. Dis waarom ’n gebruiker (of dalk meer as een) dit afgekeur het omdat dit kwansuis die sterk naaktheidsreëls van die webtuiste geskend het; daarom is dit verwyder.

Die webwerf se beleid rakende naaktheid op foto’s is egter ietwat vaag.

“Facebook het ’n streng beleid teen die deel van pornografiese inhoud en enige eksplisiete seksuele inhoud waarby ’n minderjarige betrokke is,” lui die webtuiste se bladsy vir gemeenskapstandaarde.

Lees ook: Dis hoe jy swendelaars se Facebook-skelmstreke uitken

“Ons pas ook beperkings toe ten opsigte van die vertoning van naaktheid. Ons probeer om mense se reg te respekteer om inhoud te plaas wat persoonlike belang illustreer, of dit nou foto’s van ’n beeldhouwerk, soos Dawid se Michelangelo is, of gesinsfoto’s van ’n kind wat geborsvoed word.”

Heather stem nie saam nie – in so ’n mate dat sy die foto weer en weer op Facebook plaas.

“Hierdie foto bevat niks wat seksualiteit of uitbuitery uitbeeld nie,” is haar redenasie. “Jy kan nie eens enige geslagsdele sien nie.”

En die ma van vier het haar ondersteuners, waarvan die meeste ook ouers is.

“As ’n pa van twee jong seuns het hierdie storie my ’n traan of twee laat wegpink,” het een van hierdie mans geskryf. “Alle pa’s wat hul kinders liefhet en vir hulle omgee, sou dieselfde gedoen het. Jy moet trots wees op jou man omdat hy onvoorwaardelike liefde bewys en ook trots op jouself omdat jy hierdie mooi oomblik gedeel het. Julle twee is geseën om hom te hê.”

Hoe dit ook al sy, die foto het die mense aan die praat gekry. Dit is na bewering 31 000 keer gedeel en daar was 129 000 kommentare – voor dit weer verwyder is.

Bronne: Facebook, The Sun, News.com.au, Time