’n Foto van Brittanje se hertogin van Cambridge se kaal agterstewe is deur ’n Duitse koerant aanlyn gepubliseer.

Die besluit om die foto in Bild te publiseer het ’n rusie oor privaatheid tussen Clarence House en lede van die Europese media veroorsaak, berig die Huffington Post.

Die omstrede foto is geneem tydens hertogin Catherine en prins William se onlangse besoek aan Australië. ’n Rukwind van ’n helikopter het haar rok opgewaai tydens ’n besoek aan die Blue Mountains naby Sydney.

Die berig lees: “Foto’s wys ons geliefde hertogin Catherine (32) in die Australiese Blue Mountains. Die rotorlemme van die helikopter warrel die lug en het haar rok laat opwaai – dit gee ’n duidelike uitsig van haar mooi boudjies!” Die kop van die artikel lees: “Verbod op klere vir Kate?”

Die foto is geplaas langs foto’s van Kim Kardashian en haar suster Khloé wat spog met hul kurwes.

In 2012 het die koninklike paartjie ’n regsgeding begin teen die Franse tydskrif Closer nadat dit foto’s van Catherine gepubliseer het waarin sy tydens ’n vakansie in Frankryk bostukloos sonbaai.

Clarence House het toe ’n verklaring uitgereik waarin hulle die tydskrif se dade vergelyk met die “ergste vergrype van die paparazzi in Diana se leeftyd”.

Britse koerante het na bewering geweier om die foto’s van Catherine se agterstewe te publiseer. Clarence House het nog nie kommentaar oor die saak gelewer nie.