Is dit net ’n vreemde skaduwee? Of dalk iets meer?

[caption id="attachment_110646" align="alignnone" width="600"]Foto: Nasa Foto: Nasa[/caption]

Daar is al ’n hele paar vreemde goed op Nasa se beeldmateriaal van Mars die afgelope ruk gesien (krappe, ’n vreemde “donker dame” en ’n standbeeld van Boeddha) maar ons moet erken, dié een lyk regtig onvanpas op die rotsagtige rooi planeet.

Die jongste ontdekking het diegene wat gaande is oor vreemde vlieënde voorwerpe, in vervoering omdat dit lyk soos ’n bababeertjie, kompleet met “regte hare”.

“Daar is ’n rede waarom Nasa foto’s in swart en wit publiseer,” het een van hulle, ene Scott C. Waring, op UFO Sightings Daily geskryf. “Dis om die lewende wesens en plante wat duidelik in kleur te sien sou wees, weg te steek. Dis ’n goeie voorbeeld daarvan. Die diertjie het regte hare, soos jy kan sien gemeet aan die skaduwee rondom sy lyf. Dit beteken dis nie ’n standbeeld nie, maar ’n lewende wese.”

Scott het verklaar hy gaan Ban Ki-Moon en die Verenigde Nasies hiervan in kennis stel. “Ek stel hulle dikwels in kennis van hierdie wonderlike ontdekkings, maar tot dusver het ek nog net een antwoord gekry waar hy my gevra het om dit na die @UN-rekening en nie sy @SecGen-rekening te stuur nie. Dieselfde dag het iemand van die VN my agtervolg omdat hulle glo bekommerd was dat ek van lotjie getik is.”

Wel, dalk het jy ’n beter kans met jou bababeertjie, Scott.

Bron: mars.jpl.nasa.gov