“Ja, ek wil graag verlief wees en soek iemand wat lief sal wees vir my. Maar ’n mens weet nie wat die toekoms inhou nie,” sê Nádine aan Huisgenoot.

Die sangeres het gerugte besweer oor ’n verhouding tussen haar en die voormalige Springboklosskakel Derick Hougaard.

Vrae oor ’n verhouding tussen die twee bekende donkerkoppe het die afgelope maand ontstaan toe Derick se Twitter-profiel oorheers is deur twiets van Nádine wat hy graag deel.

Dinsdag is opnuut gegis toe Derick se WhatsApp-profielfoto verander het na ’n foto van hulle saam.

“Daar is nie ’n romantiese verhouding tussen ons nie. Ons is net vriende,” het Nádine aan ons bevestig. 

Sy sê dis vir haar vreemd dat mense nie vrae stel as sy saam met ander manlike vriende op foto’s verskyn nie, maar dat ’n vriendskaplike foto van haar en Derick die oë laat rek.

Nádine en haar bestuurder, die Belg Hugo Foets, het verlede jaar, ná ’n langafstandverhouding van agt en ’n half jaar, besluit om mekaar ruimte te gee. 

Sedert hul verhouding op die rotse geloop het, was sy nog nie gereed om weer aan ’n verhouding te dink nie, sê sy. 

Sy het onlangs teruggekeer van Nieu-Seeland waar sy in die musiekblyspel Joseph and The Amazing Technicolor Dreamcoat te sien was.

“Ek is nou drie weke terug en probeer in dié stadium nog in ritme kom met die opnames van Musiek Roulette wat voorlê. Dis nou waarop ek fokus.” 

Die vierde seisoen van die musiekprogram sal in Augustus weer op SABC2 te sien wees.