Hoewel baie ma’s steeds aan die ou gesegde “bors is beter” glo en hul babas op moedersmelk grootmaak, verkies ander melkformules in bottels.

baby

Daar is talle redes hiervoor, soos ’n gebrek aan opvoeding oor die voordele van borsvoeding en ’n tekort aan ondersteuning by werkplekke. Ongelukkig glo baie mense ook steeds verkeerdelik dat borsmelk onvoldoende is vir hul babas.

Nie net is borsvoeding die beste vir pasgebore babas danksy die baie gesondheidsvoordele wat dit inhou nie, dis ook goedkoper as bottelvoeding. Veral onder mindergegoede gemeenskappe kan moedersmelk eerder as formulemelk baie voordelig wees.

Tog het albei voordele:

Voordele van borsvoeding

-       Dis gratis.

-       Dis geredelik beskikbaar.

-       Dit word maklik verteer.

-       Dit bevat aktiewe witbloedselle wat infeksies beveg, asook natuurlike chemikalieë wat verhoogde beskerming teen infeksies bied in die eerste maande, wanneer dit die nodigste is.

-       Dit bevat die perfekte verhouding van noodsaaklike voedingstowwe vir jou baba, insluitende proteïene, koolhidrate, vet en kalsium.

Maar jy hoef jou nie oor jou baba se welstand te bekommer as jy bottelvoeding verkies nie.

Voordele van bottelvoeding

-       Melkformules vir babas het beter geword om die bestanddele en verhoudings van moedersmelk na te boots.

-       Die meeste babas kry nie in hul eerste maande ernstige infeksies nie, ongeag of hulle formule- of moedersmelk drink.

Navorsers by Harvard se mediese skool het bevind borsvoeding hou ook vir die ma se hart voordele in. In ’n studie met 96 000 vroue wat tussen 1986 en 2002 die lewe geskenk het, het navorsers bevind die ma’s wat geborsvoed het se risiko vir ’n hartaanval was 19 persent kleiner as diegene wat dit nie gedoen het nie.

’n Moontlike rede is dat borsvoeding die ma se liggaam help terugkeer na “normaal”. Swanger vroue berg byvoorbeeld meer vet en borsvoeding help om daarvan ontslae te raak.

-       Saamgestel deur Faiza Mallick

Bronne: Health-e News Services, webmd.com, Huisgenoot-gesondheidsafdeling