Anton Vermeulen is een van die mense wat probleme gehad het.

Hy vertel: “Ek wou geld oorplaas na my kredietkaart en sommer terselfdertyd my Kaapstadse stadsraadrekening betaal. Ek het nie eens gekyk na my balans nie, want ons salaris is Vrydag oorbetaal en ek het nog niks uitgegee nie.

"Toe ek geld wil oorplaas, kry ek ’n kennisgewing wat sê daar is te min geld in my rekening."

Hy vertel verder: “Toe gaan kyk ek na my balans en sien twee aftrekkings van my huislening.  Toe ek FNB bel, het hulle dit bevestig en gesê hulle weet van die probleem. Ek wou toe weet wat van al die ander debietorders wat nou gaan hop en hoe ek moet betaal vir my treinkaartjie om terug te kom by die huis.

 “Die man aan die ander kant het net gesê hy is jammer en dat hulle die probleem probeer oplos.

 Peter Alkema, FNB se woordvoerder vir aanlyn bedrywighede, het aan Huisgenoot bevestig daar was fout.

 “Weens ’n tegniese probleem is talle van ons kliënte twee keer gedebiteer. Ons praat met almal wat geraak is en al die transaksies ter sprake sal omgekeer word sonder dat ons kliënte gepenaliseer word.

 “Ons vra ons kliënte verskoning vir die ongerief."

  •  FNB het pas laat weet die probleem is reggestel en al die foutiewe transaksies is omgekeer.