As jy gedink het jou maat se gesnork is irriterend, dink net hoe dit voel om langs iemand te slaap wat ’n skril fluitgeluid maak wanneer hy slaap.

Liu Yougang (23) van China het op nege per ongeluk ’n fluitjie ingesluk en sedertdien fluit hy in sy slaap. Dié voorwerpie het ook asemhalingsprobleme en hoesbuie veroorsaak.

Hy het eindelik keelvol geraak daarvoor en het die West China-hospitaal besoek om dit te laat verwyder. Die dokters daar het die fluitjie gevind in die lugweg wat na sy regterlong lei.

“Die fluitjie is al so lank in my liggaam dat dit al begin afbreek het,” het hy ná die operasie aan die Chengdu Commercial Daily gesê.

-Petro-Anne Vlok

BRONNE: Bang Showbiz, nydailynews.com