Die sangeres Sorina en haar alter ego, die Flooze, is kliphard aan die werk aan haar tweede album, Ek watch jou, wat in Augustus die rakke gaan tref.

Die groot vraag is egter wie watch dié keer vir wie . . .

Want op die nuwe album is dit inderdaad ‘n geval van Flooze versus Sorina, zeffer versus treffer en willer versus stiller, verklap sy.

In van die liedjies kom die Flooze en Sorina van aangesig tot aangesig teen mekaar te staan om daardie tydlose vraag te vra: wie is ek?

En die Flooze waarsku sommer nou al: “Maak reg vir ‘n riller want die Flooze raak al hoe willer! Die titelsnit, Ek watch jou, sal jou hart in ‘n ander body se beat laat klop, die tune Bike Brieke Boogy sal die disco diva in jou wakker maak en jou laat rock, rattle en roll soos plaasmodder op ‘n Toyota se tyres; en Boeretango sal jou laat cha-cha-cha en foxtrot op die klanke van die kalfiewals”.

Sorina sê weer sy as mens staan in dié album ook gestroop om die binnekant van haar hart se woorde te wys, met liedjies soos Kaalvoet Lovers en Lief-Liewer-Liefste.

Die album gaan beslis haar ondersteuners se wildste verwagtinge oortref, glo sy.

Of soos die Flooze sê: “Tjomma, ek watch jou big time, maar hierdie keer gaan jy vir my watch!”