Hy is die naweek deur The Freedom Trust uit sy ouers se sorg verwyder nadat verskeie voorvalle van alkoholmisbruik en beweerde kinderverwaarlosing en -mishandeling by die polisie aangemeld is.

Die nieregeringsorganisasie wat hulle beywer vir die regte van vroue, kinders en mense met gestremdhede, het in ’n verklaring gesê dat hulle die “ongewilde besluit” die afgelope naweek moes neem. Hulle wou nooit laat blyk waar Flippie en sy ouers gewoon het nie.

Flippie het die land die afgelope sowat anderhalf maand laat regopsit nadat Johnny Burger (62), die eienaar van die plaas Rietvallei buite Robertson wat hom na bewering aangeval het, selfmoord gepleeg het.

“Flippie se belange is ons enigste prioriteit; daarom het ons die bystand van die polisie ontbied,” sê Carina Papenfus, die sekretaris van die organisasie. “Ons sal in ’n later bekend maak watter behandeling Flippie ontvang. Ons moes hom wegvat. Ek kan nie kyk hoe die kind doodgaan nie.”

The Freedom Trust help Flippie sedert Januarie om regstappe teen sy beweerde aanvallers te doen en glo dat hy die slagoffer van apartheid, die dopstelsel en armoede is.

Die Flippie-sage, wat sedert Augustus vanjaar groot mediabelangstelling gelok het, word gekenmerk deur twee kampe: dié wat die dood betreur van Johnny en agter sy plaasbestuurder Wilhelm “Dozi” Treurnicht (35) – wat ook aangekla word - staan en dié vir Flippie.

Dozi sal op 14 Oktober weer in die hof voorkom op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die moontlikheid bestaan dat nog aanklagte by die klagstaat gevoeg kan word.

- Marelize Potgieter