Die animasiekomedie Cloudy with a Chance of Meatballs 2 (OT) is die opvolg op die treffer van 2009 waarin ’n onbeholpe wetenskaplike, Flint Lockwood (Bill Hader se stem), ’n masjien bou wat water in kos omskep. Maar dié masjien ruk handuit en veroorsaak storms waarin reuse stukke kos soos reën val op die eilanddorpie waarop hy woon.

Flint slaag daarin om die masjien te vernietig, en in die opvolgprent het al die inwoners die eiland verlaat nadat Flint se held, die wêreldbekende wetenskaplike Chester V (Will Forte), opgedaag het om die opruimingswerk te reël. Intussen voer Chester sy eie planne in die mou: Hy wil die masjien opspoor, maar sy ondersoekspan kom af op ’n nuwe probleem: Die masjien is nog aan die gang en skep nou diere wat met kos gekruis is soos “shrimpansees” en “tacodille”! Chester is nie lus om sy eie vuilwerk te doen en stuur Flint en sy vriende op ’n geheime en gevaarlike sending om die masjien te vind.

Die meeste resensente hou van dié fliek. Op die webtuiste Rotten Tomatoes, waarop hulle die punte wat resensente rolprente gee bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, kry dit 70 persent. Die konsensus is, “al is dit nie so slim en vindingryk soos sy voorganger nie, vergoed Cloudy 2 met genoeg skitterende beelde om jonger kykers se aandag te boei”. Die Britse rolprenttydskrif Empire se Helen O’Hara gee dit vier sterre en beskryf dit as “beminlik – veral as jy mal is oor woordspeling – en uiters laf”. Nog ’n Britse rolprenttydskrif, Total Film, se resensent Kevin Harley is egter ’n bietjie minder beïndruk en gee dit drie sterre. “Die tweede porsie Meatballs is opgewek en speels, maar ook raserig, morsig en leeg,” skryf Kevin.

Dit voorspel niks goeds nie wanneer ’n fliek in Amerika uit die staanspoor op DVD uitgereik word sonder dat dit eers ’n draai in die teater maak. Gewoonlik beteken dit die vervaardigers weet die fliek is swak en gaan nie geld maak nie. Tog glo die verspreiders blykbaar dat Suid-Afrikaners sal betaal om Fire with Fire (16 TG) in die bioskoop te gaan kyk. Die aantreklike Josh Duhamel (Transformers) speel ’n brandweerman, Jeremy Coleman, wat sien hoe ’n wit heerssugtige, David Hagan (Vincent D’Onofrio van die TV-reeks Law & Order: Criminal Intent) ’n moord pleeg. Jeremy identifiseer Hagan in ’n uitkenningsparade en word in geheime bewaring geplaas. Maar toe Hagan op borgtog vrygelaat word en Jeremy kom soek, besluit laasgenoemde om reg in eie hande te neem.

Die fliek is nie wyd geresenseer nie, maar dié wat dit gesien het, was nie juis beïndruk nie. Sover kry dit sewe persent op Rotten Tomatoes, maar daar is nog nie genoeg resensies getel om ’n konsensus te bereik nie. Alistair Harkness van The Scotsman gee dit een ster en beskryf dit as “asemrowend dom met absoluut geen goeie eienskappe nie”. Empire se Olly Richards gee dit ook een ster. “Vermy hierdie simpel, grootliks onbeduidende nietigheid soos die pes, die builepes,” skryf Olly. Al wat werklik van die film hou, is Total Film se Paul Bradshaw, wat dit drie sterre gee, maar die beste wat hy daarvan kan sê is dis “’n mal, generiese wraakstorie wat lekker en soms op ’n nare manier voortjaag”.

Elelwani (OT) is die eerste rolprent in Venda en handel oor die jong Vendavrou van die titel (vertolk deur Florence Masebe, Humbulani in Muvhango) wat lank gelede haar dorpie verlaat het, maar nou saam met haar verloofde, Vele (die komediant Ashifashabba Muleya), terugkeer om hom aan haar ouers voor te stel voor hulle na Chicago vertrek. By die dorpie aangekom, word hulle begroet met ’n uitbundige dans en hulle neem aan dis ter viering daarvan dat Elelwani die eerste vrou uit die omgewing is wat ’n graad verwerf. Maar dan hoor hulle die waarheid: die dans is die voorloper vir die bruilof tussen Elelwani en die stamhoof, aan wie haar ouers haar beloof het. Nou moet sy besluit of sy haar eie kop gaan volg of haar ouers se wense gaan eerbiedig.

Laetitia Pople van Die Burger gee die fliek vier sterre en beskryf dit as “’n wonderlike onderdompeling in die Venda-kultuur en gebruike. Elelwani wys opnuut die aantrekkingskrag van ’n plaaslike storie wat ontwikkel is uit ’n diep binnekennis en insig.” Sihle Mthembu van The Witness gee dit vier sterre en noem dit “’n visuele meesterstuk wat relevant is sonder dat dit selfbewustelik en eg Suid-Afrikaans voel”. Ook Helge Janssen van Artlink.co.za sê dis “’n meesterstuk en verpligte kykstof”.

– Sandra Visser