Daar is vandeesweek groot pret vir die hele gesin met The Lego Movie (OG) gebaseer op die gelyknamige speelgoed. Emmet (die stem van Chris Pratt van Moneyball) is ’n gewone Lego-mannetjie tevrede met sy lot, wat dan per ongeluk aangewys word as al een wat die wêreld kan red. Hy moet op ’n reis gaan saam met ’n uiteenlopende klomp karakters en ontmoet almal van Batman (The Millers se Will Arnett) tot Gandalf (Todd Hansen) langs die pad.

Resensente is mal oor dié fliek. Dit kry 96 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Die konsensus is dat die fliek “pragtige animasie en innemende stemakteurs het, deurspek is met grappies en ’n verbasend weldeurdagte storie het. The Lego Movie is kleurvolle vermaak vir alle ouderdomme.”

Twee Britse fliektydskrifte, Empire en Total Film, gee dit albei vier sterre. Eersgenoemde se Olly Richards skryf: “Die filmmakers kon maklik soos met die Smurfs-flieks gemaak het en net vinnig iets flous aanmekaargeslaan het wat te danke aan die gewildheid van die handelsmerk steeds ’n klomp geld sou maak. Maar hulle sit alles in en skep ’n mal, skerp, oneweredige fliek wat enigeen genot sal verskaf wat nog ooit aan Lego geraak het nie.”

Total Film se Matt Maytum beskryf dit as “uiters snaaks en noukeurig gedetailleer. The Lego Movie is baie beter as wat enige speelgoedgebaseerde fliek die reg het om te wees. Ten spyte van ’n paar flou oomblikke sal dit jou heeltyd laat glimlag.”

About Last Night (16 TS) is ’n romantiese komedie losweg gegrond op ’n 1974-toneelstuk deur die Amerikaanse dramaturg David Mamet (Glengarry Glen Ross, American Buffalo).

Dit handel oor twee paartjies: Debbie (Joy Bryant van die TV-reeks Parenthood) en Danny (Michael Ealy van Think like a Man) is smoorverlief en vat dinge rustig, terwyl hul vriende Bernie (Kevin Hart van Ride Along) en Joan (Regina Hall van The Best Man Holiday) nie een ’n langtermynverbintenis soek nie, en net bymekaar is vir die stomende aksie tussen die lakens.

Bernie en Joan se misnoeë oor die huwelik begin Debbie en Danny beïnvloed en hulle begin bevraagteken of hulle regtig vir mekaar bedoel is.

Die meeste kritici hou van die fliek. Dit kry 76 persent op Rotten Tomatoes en 62 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk. Die konsensus op Rotten Tomatoes is dat die fliek “voordeel trek uit die innemende rolverdeling en ’n draaiboek wat die romanse en komedie slim balanseer”.

Owen Gleiberman van Entertainment Weekly gee dit ’n B en beskryf dit as kykbaar en opgeruimd. Hy sê ook dit vang die aard van moderne verhoudings vas. Frank Scheck van The Hollywood Reporter hou ook van die fliek. “Hierdie weergawe kort die subtiliteit van die oorspronklike, maar lewer genoeg baldadige humor om dit baie vermaakliker te maak,” skryf hy.

Nog twee Oscar-benoemde flieks word vandeesweek uitgereik. Meryl Streep en Julia Roberts speel ma en dogter in August: Osage County (16 T) en is onderskeidelik benoem vir die beste aktrise en beste aktrise in ’n ondersteunende rol. Dié fliek is ook op ’n toneelstuk deur ’n Amerikaanse dramaturg gebaseer, dié keer Tracy Letts (Killer Joe, Bug). Nadat hul pa verdwyn, keer die drie Weston-susters (Julia, Juliette Lewis van Natural Born Killers en Julianne Nicholson van die TV-reeks Law & Order: Criminal Intent) terug na hul ouerhuis in Oklahoma om hul halsstarrige ma (Meryl) te ondersteun. Maar dis nie lank voor ou wonde oopgekrap word nie.

Die meeste resensente dink die fliek is heel goed. Dit kry 58 uit 100 op Metacritic en 64 persent op Rotten Tomatoes. “Daar’s so baie toneelspel aan die gang in August: Osage County dat dit dreig om oorweldigend te wees, maar wanneer die betrokke akteurs so talentvol soos Meryl en Julia is, is dit moeilik om te kla,” sê hulle.

Ian Freer van Empire gee dit drie sterre. “Dit vat ’n tydjie om aan die gang te kom en kry dit nie reg om die gevoel van ’n toneelstuk af te skud nie, maar slaag tog deur te steun op goeie akteurs wat hul ding doen in tonele met baie om die lyf. Kyk dit bloot vir Streep t. Roberts,” skryf hy. Richard Roeper van richardroeper.com beskryf dit as “ ’n soms stoutsnaaks maar eindelik bitter, lawaaierige, vermoeiende verhaal van een van die mees disfunksionele families in moderne Amerikaanse drama.”

Die ster van Nebraska (10-12 OT), die veteraanakteur Bruce Dern, is ook vir ’n Oscar benoem in die kategorie beste akteur. Dié swart-en-wit fliek van die regisseur Alexander Payne, bekend vir sy soms pynlik snaaks maar roerende komediedramas soos Sideways (2004) en The Descendants (2011), handel oor ’n hardekwas ou ballie, Woody Grant (Dern), van Missouri in die VSA, wat daarvan oortuig is dat hy $1 miljoen in die lotery gewen het. Sy vervreemde seun, David (Will Forte van die TV-reeks Saturday Night Live), stem teensinnig in om hom Nebraska toe te neem om sy geld op te eis.

Die meeste kritici prys dié fliek. Dit kry 92 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “elegant in sy eenvoudigheid en poëties in sy boodskap. Nebraska voeg nog ’n aangrypende hoofstuk by Alexander Payne se merkwaardige filmografie”.

Empire se Damon Wise gee dit vyf sterre. “ ’n Innemende reisfliek wat in ’n in diepte studie van die lewe en ’n mens se wortels ontwikkel. Dit bied wonderlike insigte oor die manier waarop families migreer en verander,” skryf hy. Andrew L. Urban van Urbancinefile.com sê dis “vol klein maar beduidende waarnemings, ryk karakters en ironie. Nebraska is ’n juweel van ’n meesterlike filmmaker.”

Die fantasie aksiefliek I, Frankenstein (10-12O) is vervaardig deur dieselfde mense agter die Underworld-reeks, so as jy daarvan gehou het, sal dié fliek dalk by jou byval vind. Frankenstein se monster (Aaron Eckhart van The Dark Knight Rises) leef steeds en bevind homself midde-in ’n oorlog tussen demone en gargoyles.

Die fliek het onder die resensente deurgeloop. Dit kry 30 uit 100 op Metacritic en slegs 4 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “lawaaierig, onsamehangend en dramaties gedood. I, Frankenstein is ’n merkwaardig vervelige fantasie-avontuur, wat nie daarin slaag om enige opwinding of belangstelling in sy karakters te skep nie.”

James Mottram van Total Film gee dit twee sterre. “Die draaiboekskrywer Stuart Beattie regisseer asof sy lewe daarvan afhang, wat beteken subtiliteit word opgeoffer en soveel rekenaarbeelde moontlik word na die skerm gewerp,” skryf hy. James Berardinelli van reelviews.net gee dit een en ’n half uit vier sterre. “Die fliek se mitologie is flou en teenstrydig. Die storielyn maak dikwels glad nie sin nie, en wanneer dit wel sin maak, wens jy amper dit het nie,” skryf hy. “Dis niks pret nie en almal neem dinge heeltemal te ernstig op.”

- Sandra Visser