Voor Faan se Trein (10-12O) in die teaters begin draai het, het dit reeds op verlede jaar se Silwerskerm-rolprentfees die prys vir beste rolprent losgeslaan, en as ’n mens so na die kritici luister, verdien dié film dit deur en deur.

Dis gegrond op die gelyknamige toneelstuk deur Pieter Fourie en handel oor Faan (Vetkoekpaleis se Willie Esterhuizen), ’n middeljarige met die verstand van ’n sewejarige wat in 1959 op ’n Karoodorpie woon. Faan bly saam met sy 80-jarige pa, Frik (Cobus Rossouw van Konings), wat hoop om ’n kontrak los te slaan om die droogtegeteisterde dorp se dam te bou. Ongelukkig gaan dit met behulp van sy donkies drie jaar duur en ’n bouer van ’n ander dorp belowe om dit binne ’n paar maande met sy stootskrapers te doen. Die meeste van die dorpenaars is Faan goedgesind, maar dan is daar mense soos Beatrice (Nicola Hanekom van Transito), die dokter se selfsugtige vrou, wat hom nie kan verdra nie.

Die Burger se Paul Boekkooi gee die film vyf sterre en skryf: “Faan se Trein het die maatstaf so gelig dat dit van ons Suid-Afrikaanse rolprentbedryf ’n wêreldmededinger kan maak. Elke raampie is ’n meesterstuk in visuele trefkrag en estetiese sinrykheid.”

Die Cape Times se Steyn du Toit gee dit drie sterre en beskryf dit as “treffend en uitgevoer met deernis. ’n Mens hoor dikwels mense kla oor hoe uitstekend en invloedryk Afrikaanse rolprente jare gelede was. Dis die soort fliek waarvan hulle praat.”

Kulani Nkuna van The Citizen skryf: “Die storie ontvou op ’n delikate manier sonder ’n tikkie voorspelbaarheid” en prys die rolverdeling: “Niemand maak die geringste fout in hierdie ensemble nie.”

Al drie is veral beïndruk deur Willie se genuanseerde, toegewyde toneelspel. “Esterhuizen, wat ons hoofsaaklik ken van rolprente met woorde soos boudjies, daisies en Vaatjie in hul titels, maak Faan ’n karakter wat grense verskuif rondom iemand wat jy as ’n gestremde sou kon beskou,” skryf Paul. Kulani sê: “Esterhuizen is uiters bevoeg in hierdie rol en daar is in die algemeen uitstekende toneelspel, veral van Deon Lotz,” wat die dokter en burgemeester speel.

Die fliekweergawe van die geliefde roman The Book Thief (10-12OG) deur Markus Zusak word ook vandeesweek uitgereik. Dit speel af in Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog en handel oor die negejarige Liesel Meminger (die nuweling Sophie Nélisse) wat in 1939 gestuur word om by die liefdevolle maar brandarm pleegouers Hans (Geoffrey Rush van Pirates of the Caribbean) en Rosa Huberman (War Horse se Emily Watson) op die dorpie Molching net buite München te gaan woon. Sy begin boeke versamel (en soms steel) en Hans help haar hulle lees. Om ’n guns terug te betaal stem Hans in om ’n jong Joodse man (Ben Schnetzer) in hul kelder weg te steek. Dan begin die Geallieerdes se bomme val.

Ongelukkig vir liefhebbers van die boek lyk dit nie asof die fliek ’n geslaagde interpretasie is nie. Op die webtuiste Rotten Tomatoes, waarop hulle die punte wat resensente films gee bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, kry die fliek 50 persent. Die konsensus is dat die vervaardigers “’n bietjie te veilig speel met hul hantering van die Nazi-Duitsland-milieu, maar dié tekortkoming teenwerk met ’n eerbiedige stemming en sterk toneelspel”. Ty Burr van die Boston Globe gee dit twee sterre en beskryf dit as smaakvol dog vervelig. Stephen Farber van The Hollywood Reporter prys die toneelspel, maar betreur dit dat die stadige pas enige spanning uit die weg ruim.

Sylvester Stallone en Robert de Niro grawe twee van hul ikoniese karakters uit ’n vorige lewe op vir Grudge Match (10-12OTG). Sly stof Rocky weer af en Robert spot met sy legendariese vertolking van die bokser Jake La Motta in Raging Bull (1980).

Dertig jaar gelede was Henry “Razor” Sharp (Stallone) and Billy “The Kid” McDonnen (De Niro) teenstanders, maar net voor hul derde geveg het Sharp besluit om uit te tree en Billy die kans ontneem om uit te vind wie werklik die beste is. Toe hulle mekaar weer raakloop, probeer ’n opportunistiese promotor (die komediant Kevin Hart) hulle kry om vir oulaas weer hul handskoene aan te trek.

Die meeste resensente is min beïndruk en dit kry net 26 persent op Rotten Tomatoes. Die konsensus is dis “plek-plek snaaks, maar die vertelling slinger rond en die sterk rolverdeling word vasgevang in ’n intrige wat deur clichés oorheers word”. Die Britse rolprenttydskrifte Total Film en Empire gee dit albei twee sterre. Laasgenoemde se Nick de Semlyen beskryf dit as “’n vervelige, sprankelose storie wat voel of dit ’n ewigheid duur om in die kryt te kom”.

Die Paranormal Activity-sage ploeg voort met Paranormal Activity: The Marked Ones (16 TG), die vyfde in ’n reeks waarvan die mitologie met elke aflewering ál meer ineengestrengel raak. Wat hierdie een anders maak, is dat dit in ’n Latyns-Amerikaanse gemeenskap in Kalifornië afspeel. Twee tienerseuns, Hector (Jorge Diaz) en Jesse (Andrew Jacobs), stel ondersoek in toe hul buurvrou, wat almal vermoed ’n heks is, vermoor word. Namate hulle dieper delf, blyk dit Jesse is deur ’n demoon gemerk wat hom stadigaan oorneem.

Die film het meestal swak resensies gekry. Op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, het dit 42 uit 100 gekry en die konsensus op laasgenoemde is dat “’n verandering van milieu ietwat nuwe lewe in die franchise blaas, maar die fliek misluk daarin om deurgaans genoeg spanning te behou om ’n vyfde film te regverdig”. Tom Huddleston van Time Out New York gee dit twee sterre. “Die intrige is ’n verwarrende, afgewaterde sameflansing van flou bonatuurlike clichés,” skryf Tom.

Aan die ander kant is Empire se gruwelkenner, Kim Newman, toegeefliker en gee dit drie sterre. Hy sê dis “beter as jou deursnee deel vyf en lewer genoeg skrik-oomblikke en kinkels om lojale kykers te bevredig”.

- Sandra Visser