As jy ’n kind in die 80’s was en nostalgies voel oor dié era se tekenprente, sal jy dalk gretig wees om die nuwe weergawe van Teenage Mutant Ninja Turtles (7-9 OG) te sien.

teenage-mutant-ninja-turtles-2014-poster

Die bombastiese regisseur Michael Bay (Transformers, Bad Boys) is die vervaardiger en die Suid-Afrikaans gebore Jonathan Liebesman (Battle Los Angeles, Wrath of the Titans) tree op as regisseur, so as jy hul soort flieks geniet, sal hierdie poging dalk by jou byval vind.

New York word oorheers deur die nare misdaadbaas Shredder (Tohoru Masamune) wat die polisie en die politici onder sy beheer het. April O’Neil (Megan Fox van Transformers) wil ’n regte verslaggewer wees, nie ’n mooipoppie-TV-aanbieder nie. Sy soek ’n goeie storie en daarom agtervolg sy lede van Shredder se Foot-bende. Maar sy is heeltemal verbaas toe sy sien hoe vier reuse waterskilpaaie die skurke opdons. So leer ken sy Michelangelo (Noel Fisher van die TV-reeks Shameless), Raphael (Alan Ritchson van The Hunger Games: Catching Fire), Donatello (Jeremy Howard) en Leonardo (Pete Ploszek, maar met die stem van Jackass se Johnny Knoxville) en besef sy hulle is haar troeteldiere wat sy as kind in die toilet afgespoel het om hulle te red van haar wetenskaplike-pa se eksperimente. Maar hy het hulle toe reeds met ’n middel ingespuit wat hulle in reuse, intelligente mutante laat ontwikkel het. Saam probeer die Turtles en April om ’n stokkie voor Shredder te nuutste bose plan te steek.

As ’n mens na die kritici luister, klink dit ongelukkig asof die meeste 80’s-kinders gaan wens Michael en Jonathan het eerder die Turtles daar gelaat. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 20 persent en bevind: “Dis nie vermaaklik genoeg om aan te beveel nie, maar ook nie vreeslik vrot nie. Teenage Mutant Ninja Turtles is dalk die verveligste fliek wat al oor pratende reptiele gemaak is.”

Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film gee dit albei twee sterre. Eersgenoemde se Olly Richards skryf: “Die fliek sou veel genotvoller gewees het as dit meer plesier geput het uit hoe laf die storie is. Maar dis nou die era van die introspektiewe superheld en dus moet daar meer diepte wees. Die turtles is nou opgeswelde gedrogte wat lyk asof hulle gemuf het. As jy die aksiehelde van The Expendables (2010) êrens klam gelos het, sal hulle dalk so uitdraai. Hulle frons en grom meer as wat hulle grappies maak. Hulle het emosionele letsels. En die intrige is so yl dat dit dalk glad nie bestaan nie.”

Total Film se Ken McIntyre beskryf die fliek as “plek-plek pret, maar meestal groot, dom en luidrugtig. Basies is dit Transformers met waterskilpaaie pleks van robotte.”

Die wetenskapsfiksieriller Snowpiercer (16 TG) speel in die jaar 2031 af. ’n Eksperiment om aardverwarming te kniehalter het misluk en die aarde in nog ’n ystydperk gedompel. Die enigste oorlewendes bewoon ’n massiewe, ewigbewegende trein genaamd Snowpiercer wat om die aardbol reis. ’n Klassestelsel het op die trein ontwikkel en die arm mense, gelei deur Curtis (Chris Evans van Captain America), wat agter in beknopte kompartemente woon, raak ál meer ontevrede terwyl die rykes voor in die trein in weelde leef. Dan besluit hulle genoeg is genoeg en vat die rykes aan.

Die meeste kritici dink dis ’n uitstekende fliek. Dit kry 84 uit 100 op Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en ’n uitmuntende 95 persent by laasgenoemde, wat bevind: “Snowpiercer bied waagmoedige en ambisieuse aksietonele vir kykers wat al afgestomp is vir lokettreffers vol spesiale effekte.”

Stephen Danay van undertheradarmag.com gee dit sewe uit 10. “Die konsep is dalk moeilik om te koop, want dit maak nie veel sin nie,” skryf hy. “Maar as jy dit net aanvaar, kan jy ’n opwindende rit verwag. Waar die film veral uitblink, is in die gedetailleerde stelontwerp en verfilmingstyl.”

Tim Martain van die Australiese koerant The Mercury gee dit vier sterre. “Die fliek se temas – fundamentalistiese dogma, hoe ons almal verbind is, revolusie, ongeregtigheid en oorlewing – asook die hope kinkels wat dit bevat, maak dit ’n opwindende, unieke ervaring,” skryf hy. “Dis donker, onheilspellend, insiggewend en onrusbared. Daar val meer klem op die intrige as spesiale effekte.”

As jy lus is om iets meer realisties te kyk, kan jy dalk This Is Where I Leave You (16 DGS) probeer. Die vier Altman-sibbe vind uit hul pa is oorlede. Hy het versoek dat hulle volgens die Joodse tradisie vir ’n week huis toe kom om oor sy dood te treur en uiting te gee aan hul emosies. Nie een van hulle is lus vir hul eksentrieke ma (Jane Fonda van Barbarella) nie, maar stem tog in. Judd (Jason Bateman van Horrible Bosses) het pas uitgevind sy vrou (Abigail Spencer) het ’n affair. Wendy (Tina Fey van die TV-reeks 30 Rock) se man (Aaron Lazar) is so besig met sy selfoon dat hy niks inneem wat om hom aangaan nie. Paul (Corey Stoll van die TV-reeks House of Cards) en sy vrou (Kathryn Hahn) sukkel al jare om kinders te hê. En die bababoetie, Philip (Adam Driver van die TV-reeks Girls), vryf net almal verkeerd op.

Die meeste resensente is nie vreeslik mal oor die fliek nie. By Metacritic kry dit 44 uit 100 en 42 persent by Rotten Tomatoes. Hulle bevind: “This Is Where I Leave You het sy oomblikke, maar as ’n mens in ag neem hoeveel talentvolle akteurs hier bymekaargebring is, is die uiters gemiddelde resultaat ’n groot teleurstelling.”

Empire se Olly Richards is toegeefliker en gee dit drie sterre. “Dié akteurs sou met enige of selfs geen draaiboek vermaak verskaf, en hulle stel nie teleur nie. En gelukkig is die draaiboek goed,” skryf hy. “Jonathan Tropper het sy eie roman verwerk en vang die ware aard van broer-en-suster-verhoudings goed vas. Maar die fliek is nie so sterk wat die familielede se verskeie romanses betref nie. Die verhoudings streef daarna om komplikasies te skep, maar is nie kompleks nie.”

Die gesiene Amerikaanse resensent Susan Granger gee dit vyf uit 10. “Die ensemble sukkel heldhaftig om uit te styg bo wat eintlik net ’n vereenvoudigde sitkomweergawe van August: Osage County (2013) is. Nie een van die karakters het diepte nie; hulle is almal lawwe stereotipes wat slegs deur middel van clichés mekaar se nukke kan verstaan.”

Die Sweedse komedie The 100-Year-Old Man Who Climbed out the Window and Disappeared (16 TVG) is gegrond op die gewilde gelyknamige roman deur die Sweed Jonas Jonasson. Tydens sy verjaardagpartytjie by die ouetehuis besluit ’n 100-jarige man, Allan Karlsson (Robert Gustafsson), hy is nie juis lus vir die feesvieringe nie en klim by die venster uit. So begin nog ’n avontuur in sy voorheen opwindende lewe en vind ons tussendeur uit wat hierdie dinamietkenner alles in sy 100 jaar aangevang het.

Rotten Tomatoes het nog nie ’n konsensus uitgewerk nie, maar in dié stadium kry die fliek 67 persent gegrond op 33 resensies. Total Film se Neil Smith gee dit drie sterre en beskryf dit as “ ’n Skandinawiese komedie met die gevoel van Nordiese noir gekruis met Forrest Gump (1994). Dis ’n verspotte fliek wat dalk nie altyd sin maak nie, maar ten minste is dit nooit vervelig nie.”

Dave Calhoun van Time Out is minder beïndruk en gee dit net twee sterre. “Die titel is nie die enigste onsamehangende, lomp aspek van hierdie ligte, absurde komedie nie en ongelukkig kan die Sweedse humor nie in vertaling oorgedra word nie,” skryf hy. “Dit wil-wil in ’n klugspel ontaard en word aangehelp deur ’n irriterende klankbaan wat soos iets uit ’n sirkus klink. Wat ’n innemende gemors.”

Die Mexikaanse komedie Instructions Not Included (10-12 T) handel oor ’n pierewaaier, Valentin (Eugenio Derbez), wat ’n sorgelose bestaan in Acupulco voer tot ’n eksmeisie ’n babameisie op sy drumpel los. Hy reis na Los Angeles om die vrou te vind, maar kan haar nie opspoor nie en begin dan maar werk as ’n waaghals in Hollywood om sy dogter, Maggie (Loreto Peralta), te onderhou. Ses jaar later het vaderskap Valentin gedwing om groot te word. Hy’s een van die rolprentbedryf se top-waaghalse en hy en Maggie is dolgelukkig. Maar dan daag haar ma op en wil sy Maggie terughê.

Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om ’n konsensus te bereik nie, maar sover kry die fliek 56 persent gegrond op 16 resensies. Bill Gibron van filmracket.com gee dit drie sterre. “Eugenio en Loreto werk goed saam en is gemaklik as pa en dogter,” skryf hy. “Dit maak dit maklik om aan Valentin se kant te wees en te hoop hy behaal sukses sodat hy klein Maggie se lewe spesiaal kan maak. Ongelukkig herinner Eugenio ’n bietjie te veel aan die Italiaanse akteur en regisseur Roberto Benigni (Life Is Beautiful) en dié se hansworsagtige komediestyl vol oordrewe gesigtrekkings. Daar is ook ’n ongemaklike kombinasie van humor met hartseer wat herinner aan Roberto se swakste eienskappe.”

- Sandra Visser