Vandeesweek se potensiële lokettreffer is die wetenskapsfiksieriller Transcendence (13G). Johnny Depp (Pirates of the Caribbean) speel ’n baanbreker-rekenaarwetenskaplike, dr. Will Caster, wat aan ’n robot werk wat vir homself kan dink. Hy wil al die kennis van die mensdom in die robot se verstand plant. Toe ’n aktivis wat gekant is teen sy eksperimente hom skiet en noodlottig wond, laai sy vrou (Rebecca Hall van Iron Man 3) sy bewustheid in die robot af sodat hy kan voortleef. Dinge lyk aanvanklik belowend toe Caster aankondig hy gaan sy nuwe kennis en mag gebruik om die mensdom te help, maar gou-gou begin sy idee van “help” die mense rondom hom bang maak.

Die meeste resensente dink die fliek is swak. Dit kry slegs 19 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Hulle bevind: “Met sy regisseursdebuut behou die rolprentfotograaf Wally Pfister (wat al baie saam met The Dark Knight se regisseur, Christopher Nolan, gewerk het) sy kenmerkende visuele styl, maar die fliek slaag nie daarin om reg te laat geskied aan temas wat mense tot nadenke stem nie.” Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film gee dit albei twee sterre. Eersgenoemde se William Thomas skryf: “ ’n Uitstekende rolverdeling en talentvolle filmmaker word vermors op ’n tweederangse draaiboek wat grootpraterig voorgee dat dit die toekoms voorspel.” Total Film se Jamie Graham voel “Pfister moet geprys word vir die feit dat hy ’n fliek propvol idees en aspirasies gemaak het wat nie deel van ’n franchise is nie, maar Transcendence is glad nie so verhewe soos sy titel nie. Behalwe vir die glansende beelde is dit ’n teleurstelling.”

Die regisseur van die fantasie-komedie Ted (2012), Seth McFarlane, is terug met sy opvolgprent, A Million Ways To Die in the West (16TG). Seth speel ’n bangbroek-boer in die Wilde Weste, Albert, wat kleinkoppie trek by ’n skietgeveg. Dit veroorsaak dat sy wispelturige meisie (Amanda Seyfried van Mamma Mia!) hom afsê. Toe die beeldskone en geheimsinnige Anna (Charlize Theron van Prometheus) die dorp inry, help sy Albert dapperder word, en hy raak verlief op haar. Toe daag Anna se man, die berugte skurk Clinch (Liam Neeson van Taken), ook op, en Albert moet die moed vind om sy man te staan.

Die meerderheid resensente is nie beïndruk nie. Die fliek kry 34 persent op Rotten Tomatoes, maar vaar ietwat beter by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk; daar kry dit 50 uit 100. Die konsensus op Rotten Tomatoes is: “Al bied dit ’n paar grappies en ’n talentvolle rolverdeling is Seth MacFarlane se fliek uitgerek en doelloos. ’n Teleurstellend wisselvallige poging.” Elizabeth Weitzman van die New York Daily News gee dit twee sterre. “MacFarlane het ’n goeie klomp akteurs bymekaargebring, wat dit net nog teleurstellender maak dat die fliek net oukei is,” skryf sy. “Daar is ’n paar snaakse oomblikke, maar MacFarlane maak te veel staat op vuil grappies wat nêrens heen lei nie.” Elizabeth voel ook dat Seth te veel die aandag op homself plaas en eerder die meer ervare akteurs kans moes gee om te wys wat in hulle steek. Witney Seibold van nerdist.com is ’n bietjie positiewer en gee dit drie sterre. “Seth se tweede fliek is bietjie minder kras en bietjie meer sjarmant,” skryf hy. “Die resultaat is by tye snaaks, effens onbenullig en teenstrydig banaal.”

The Railway Man (13G) is gegrond op die lewe van Eric Lomax (Colin Firth van The King’s Speech), ’n Britse weermagsoffisier wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in ’n Japannese strafkamp gemartel is. Dekades later ontmoet en raak hy verlief op Patti (Nicole Kidman van Mouline Rouge!), maar sy besef sy verlede spook steeds by hom en probeer hom help. Toe hulle uitvind een van die Japannese soldate (Hiroyuki Sanada van The Wolverine) wat vir sy mishandeling verantwoordelik is, steeds leef, moedig Patti Eric aan om die man op te spoor en te konfronteer in ’n poging om oor sy trauma te kom.

Die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 66 persent op Rotten Tomatoes, waar die konsensus is: “The Railway Man is amper te subtiel, maar oorkom ’n soms dooierige pas met ’n roerende ware verhaal en die rustige wisselwerking tussen Colin en Nicole.” Moira Macdonald van The Seattle Times gee dit drie sterre. “Geen ander akteur dra stille pyn so goed oor soos Colin Firth nie, en in The Railway Man bied hy ’n meesterklas in dié emosie,” skryf sy. “Tog is die fliek effens teleurstellend. Dis nie as gevolg van die storie nie, wat merkwaardig is, maar die terughoudendheid van die regie. Jy wens Kidman se karakter is met meer nuanse geskryf en dat Firth meer op die skerm is. Tog is dit onmoontlik om nie deur hierdie man se verhaal aangeraak te word nie.” Tog is Empire se Ian Nathan nie so beïndruk met die fliek nie en gee dit twee sterre. “Die regisseur Jonathan Teplitzky ondermyn die sterk toneelspel met ’n lukrake struktuur en lustelose pas,” skryf hy. “Nie eens Colin Firth kan hierdie biografiese prent aan die lewe praat nie.”

In die Christelike drama I’m in Love with a Church Girl (7-9O) speel die rapper Ja Rule die skatryk gewese dwelmhandelaar Miles Montego, wat nou die wet probeer gehoorsaam, al is dit soms moeilik omdat hy steeds vriende het wat hulle nie aan die gereg steur nie. Dan raak hy verlief op Vanessa (Adrienne Bailon van die Disney-popgroep The Cheetah Girls), ’n ordentlike en godsdienstige meisie. Maar kan Miles en Vanessa hul verskille oorbrug?

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar dié wat dit gesien het, is nie veel beïndruk nie. Dit kry 23 uit 100 gebaseer op 13 resensies op Metacritic. Elizabeth Weitzman van die New York Daily News gee dit een ster. “Daar is geen rede hoekom ’n fliek met ’n agenda nie ook aangrypend kan wees en jou laat nadink nie,” skryf sy. “Maar wat ons hier het, is nie soseer ’n fliek nie, maar eerder ’n Sondagpreek wat nie goed verbloem is nie.” Frank Scheck van The Hollywood Reporter voel “ten spyte van innemende toneelspel en ’n gehalteproduksie, voel hierdie drama soos ’n lang preek. Die fliek sink onder die gewig van die hewig moralistiese intrige en hoogdrawende dialoog.”

- Sandra Visser