Brad Pitt speel Don “Wardaddy” Collier, ’n deurwinterde Amerikaanse weermagsersant en bevelvoerder van ’n Sherman-tenk en vyf bemanningslede. Dis April 1945 en hulle is op ’n gevaarlike sending in vyandige gebied. Toe die groentjie Norman Ellison (The Perks of Being a Wallflower se Logan Lerman) by hulle aansluit, leer ken hy gou die aaklige werklikhede van oorlog.

Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 78 persent. Hulle bevind: “Oor die algemeen bevat Fury goeie toneelspel en bied ’n gepaste rou uitbeelding van die gruwels van oorlog met oortuigende gevegstonele. Ongelukkig voldoen die fliek nie heeltemal aan die vervaardigers se groter ideale nie.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ian Nathan gee dit drie sterre. “Dis ’n oortuigende uitbeelding uit die oogpunt van tenksoldate van oorlog met al sy onaangenaamhede,” skryf hy. “Ongelukkig word dit gekniehalter deur ’n oorlade, sub Saving Private Ryan (1998) intrige oor ’n onskuldige in die kruisvuur.”

As jy liewer lus het vir iets ligs, kan jy Annie (O) beproef. Dis ’n nuwe verwerking van die gewilde musiekspel oor die New Yorkse weeskind wat altyd die beste van ’n slegte saak maak. Die storie is opgedateer en speel in die hede af. Die 11-jarige Annie (Quvenzhané Wallis van Beasts of the Southern Wild) is ’n pleegkind wat deur die nare mej. Hannigan (Cameron Diaz van Charlie’s Angels) versorg word. Toe die nors politikus Will Stacks (Jamie Foxx van Ray), ’n miljoenêr-burgemeesterskandidaat, deur sy span aangeraai word om sy beeld te poets, besluit hy dat Annie by hom kan kom woon. Kort voor lank begin Stacks se hart onder die aanslag van die sonskynkind smelt . . .

Ongelukkig is meeste resensente nie juis gaande oor die fliek nie. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 33 uit 100, en by laasgenoemde kry dit net 28 persent. Die konsensus is: “Annie se nuwe voorkoms skep die verwagting dat dit ’n progressiewe weergawe van ’n geykte storie gaan wees, maar dit versmoor die innemende akteurs onder ’n stortvloed clichés, soetsappigheid en onsmaaklike materialisme.”

Empire se Olly Richards gee dit twee sterre. “Hierdie poging om die musiekspel uit sy 1933-milieu op datum te bring is die helfte skerpsinnige kinkels en helfte lomp mistastings,” skryf hy. “Quvenzhané is pure sonnige vasbeslotenheid, die popweergawes van die oorspronklike liedjies doen hulle geen skade nie en die toevoeging van ’n nuwe skurk – Stacks se glibberige beeldpoetser (Bobby Cannavale van die TV-reeks Boardwalk Empire) – verleen dit ’n tikkie moderniteit. Maar die nuwe liedjies is vrot en die stroperige manier waarop mej. Hannigan van ’n boef in ’n goeie persoon verander bederf ’n lekker nare skurk en sorg vir ’n afgewaterde einde.”

As jy iets kunssinnigers soek, is daar No (16T), ’n Spaanse fliek oor die Chileense referendum van 1988. Weens toenemende wêrelddruk voel die militêre diktator Augusto Pinochet genoop om ’n volkstemming te hou sodat die nasie kan besluit of hy permanent aan bewind mag bly. Opposisieleiers besluit om die astrante jong advertensievervaardiger René Saavedra (Gael García Bernal van Amores Perros) aan te stel om hulle veldtog te dryf. Met min finansiële ondersteuning en onder toenemende druk van Pinochet kom Saavedra en sy span met ’n waaghalse plan vorendag om die verkiesing te wen en Chile se vryheid te verseker.

Die meeste resensente dink dis ’n uitstekende fliek. Metacritic gee dit 81 uit 100 en Rotten Tomatoes 93 persent. Hulle bevind: “No gebruik geskiedkundige gebeure om ’n slim perspektief vol swart humor op moderne demokrasie en die menslike natuur te bied.”

Rene Rodriguez van die Miami Herald gee dit drie en ’n half uit vier sterre en beskryf dit as “aangrypend en spanningsvol, al weet jy wat die uiteinde is. Dis ’n boeiende ondersoek na die mag van die media om mense te manipuleer.”

Samuel L. Jackson is ’n groot ster en ’n goeie akteur; hoekom hy dan voel hy moet in soveel tweederangse aksieflieks speel bly ’n raaisel. In Kite (16G), wat gedeeltelik in Suid-Afrika verfilm is, speel hy ’n korrupte polisiespeurder in ’n distopiese toekomswêreld wat straatkinders inneem om sy vuilwerk te doen. Die jong Sawa (India Eisley van Underworld: Awakening) is een van die kinders wat hy opgelei het, maar sy het haar eie agenda: om haar ouers se moordenaar op te spoor.

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie en Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om ’n konsensus te bereik nie, maar sover kry dit nul by hulle! Metacritic gee dit 19 uit 100 gegrond op sewe resensies.

Kyle Smith van die New York Post gee dit een uit vier sterre en beskryf dit as “’n moordadige bloedbad met ’n wending so voor die hand liggend dat selfs jou ouma dit kan sien kom. Kite kom net nooit aan die gang nie.”

Nadat Abduction (2011) misluk het, probeer die Twilight-hartebreker Taylor Lautner weer ’n aksieheld wees in Tracers (13 TSG). Hy speel ’n New Yorkse fietsbode met ’n misdaadbende op sy spoor. Dan ontmoet hy die beeldskone Nikki (Marie Avgeropoulos van die TV-reeks The 100) en sluit aan by haar groep wat parkour (’n tipe gimnastiek waarin jy die stadsomgewing benut om waaghalse spronge en dies meer uit te voer) gebruik om hul rooftogte uit te voer. Maar met hulle sukses kom toenemende arrogansie en soos hulle groter droom, waag hulle ál meer kanse.

Snaaks genoeg word die fliek eers in Maart in Amerika en Brittanje uitgereik; daarom het geen resensente dit al onder oë gehad nie. Maar as jy verlang na Taylor se oulike gevreetjie en snaarstywe maagspiere kan jy dit dalk ’n kans gee.

Sandra Visser