Henk Pretorius, die regisseur van die genotvolle en intelligente Fanie Fourie’s Lobola (2013), behartig die regie van nog ’n romantiese komedie oor botsende kulture.

In Leading Lady (O) speel Katie McGrath (van die TV-reeks Dracula) ’n Britse aktrise wat hoop op ’n rol in ’n groot produksie, maar sy moet kan oortuig as ’n heldin uit die Tweede Vryheidsoorlog en kom na Brandfort in die Vrystaat waar dié vrou se nasate nou woon om navorsing te doen. Daar span sy die hulp in van ’n stug boer (die sanger Bok van Blerk).

Laetitia Pople van Die Burger gee dit vier sterre en voel “die wisselwerking tussen kulture word boeiend en verrykend hanteer”. Sy prys die ensemblespel, veral dié van Brümilda van Rensburg, Gil Bellows en André Stolz, en beskryf die fliek as “net ’n vreugde”.

Nadat die eerste twee boeke in skrywer John van de Ruit se reeks suksesvol in flieks omskep is, volg die derde aflewering. In Spud 3 – Learning to Fly (10 DT) is dit 1992 en Spud Milton (Troye Sivan) bevind hom in sy derde jaar aan ’n spog kosskool in Natal. Hy is amper 16 en dink dit beteken hy is so te sê ’n man, maar Spud is eintlik ewe onseker as altyd. Hy dink dinge sal gladder verloop noudat hy ’n senior is, maar tot sy en sy kamermaats, die Crazy Eight, se groot skok is hulle aartsvyand, Pike, weer terug vir postmatriek. Hy’s nou ’n prefek en is daarop uit om hulle geskors te kry. Dan is daar ook ’n nuwe kamermaat, Garth Garlic (YouTube-ster Casper Lee), wat nie uitgepraat kan raak oor sy tuiste langs die Malawimeer nie, en die meisies maak Spud se kop nog net meer deurmekaar. Gelukkig is sy gunsteling-onderwyser, The Guv (John Cleese), daar om hom moed in te praat.

Die Burger se Rozanne Els gee dit drie sterre. Dié keer het John Barker die regie by Donovan Marsh oorgeneem en “sy aanslag is meer direk, so ook die humor. Geen ompaaie nie. Dis ’n jammerte, want die storie en teks verleen dit tot speelse dubbelsinnigheid.” Tog voel sy dis “steeds ’n fliek om te geniet en die akteurs het uitstekende dinamiek”.

The Boxtrolls (OG) is die derde fliek uit die stal van die “stop-motion”-animasiemaatskappy Laika, wat ook die briljante Coraline (2009) en ParaNorman (2012) vervaardig het. Onder die strate van die dorpie Cheesebridge woon glo gevaarlike kreature wat gereeld kinders, en nog erger, die inwoners se kaas steel. Maar die weeskind wat hulle glo ontvoer en opgevreet her, Eggs (Game of Thrones se Bran, Isaac Hempstead-Wright, se stem), is deur dié eintlik oulike kalante – wat goggas eet en kartondose as klere dra – aangeneem en blakend gesond. Tog sal die bose Archibald Snatcher (Ben Kingsley van Gandhi) enigiets doen om van hulle ontslae te raak, en toe Eggs van Snatcher se nuwe plan te hore kom, moet hy vinnig iets doen om sy vriende te red.

Die meeste resensente dink dis ’n baie oulike fliek. Dit kry 75 persent by die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Al is dit nie Laika se beste poging nie, is The Boxtrolls steeds propvol genoeg aweregse humor en visuele prag om ’n gesonde dosis vermaak aan alle ouderdomme te bied.”

Die Britse fliektydskrif Empire gee dit vier sterre en beskryf dit as “snaaks, sjarmant en aksiebelaai”.

Neil Smith van die Britse rolprenttydskrif Total Film gee dit drie sterre. “Die konseptualisering van die Boxtrolls se ondergrondse tuiste is uitstekend en die vervaardigers kry dit reg om ’n skouspelagtige klimaks te skep,” skryf hy. “Maar dis moeilik om ’n fliek lief te kry wat blyk om ’n perverse plesier daaruit te put om die kyker te laat gril. Dit val nie in almal se smaak nie, maar sommige kykers sal mal wees oor hierdie makabere prent.”

Jason Sudeikis, Charlie Day en Jason Bateman is terug vir Horrible Bosses 2 (16 TSG). Hulle is moeg om vir ’n baas te werk en wil hul eie onderneming begin, maar dan loop ’n sluwe belegger (Christoph Waltz van Inglorious Basterds) hulle in. Om hul onderneming te red ontvoer hulle sy seun (Star Trek se Chris Pine), maar natuurlik loop dit skeef. Hul nare base uit die vorige fliek, gespeel deur Jennifer Aniston en Kevin Spacey, keer terug, asook Jamie Foxx as die gewese tronkvoël wat hulle moes raad gee oor hoe om van hul base ontslae te raak.

Die meeste resensente dink dis bra flou. Op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, kry dit 41 uit 100. Laasgenoemde gee dit 35 persent, en die konsensus is: “Horrible Bosses 2 sal dalk groot aanhangers van die eerste fliek ’n paar keer uit die maag laat lag, maar die fliek is ’n vermorsing van ’n sterk rolverdeling en misluk daarin om sy eie bestaan te regverdig.”

Empire se David Hughes is meer geneë en gee dit drie sterre. “Die goeie nuus is dat Horrible Bosses 2 ten minste harder probeer as die meeste lui komedie opvolgprente wat dieselfde storie bloot na ’n ander milieu verplaas, maar bring tog die dele terug waarvan aanhangers die meeste in die eerste fliek gehou het,” skryf hy. “’n Mens se mening van hierdie ongevraagde maar innemende prent hang heeltemal af van jou reaksie op die stelling: “Dis beter as die eerste een.” a) “Wel, die eerste een was so vrot dat dit net ’n verbetering kan wees,” of b) “Fantasties!”

Entertainment Weekly se Chris Nashawaty gee dit ’n B-. “As ’n opvolg is Horrible Bosses 2 heel oukei,” skryf hy. “Dit hou by dieselfde formule en die intrige is eintlik ’n bysaak. Die oomblikke wat die minste snaaks is, is dié waaraan die regisseur, Sean Anders (That’s My Boy), die hardste gewerk het, soos ’n lawwe, uitgerekte toneel waarby stikstofoksied (laggas) betrokke is en die terugkeer van Spacey, Aniston en Foxx, wat liewer verby moes gehou het. Dis die klein oomblikke – Bateman se uitdrukkinglose gesig, Day se waansinnige benoudheid en Sudeikis se smerige grappies – wat die beste werk. Maar dis wat jy kry wanneer jy te hard probeer.”

Jason is ook te sien in die komediedrama The Longest Week (O), waarin hy die dekadente, middeljarige losbol Conrad Valmont speel. Dit begin waar sy ouers eindelik besluit om hom finaal van hul fondse af te sny, en sonder ’n tuiste of ’n werk klop hy aan by sy enigste vriend, Dylan (Billy Crudup van Watchmen). Maar hul vriendskap word beproef toe hulle albei vir die model Beatrice (Olivia Wilde van Tron: Legacy) val.

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar tot dusver kry dit 11 persent op Rotten Tomatoes gegrond op 18 resensies en 34 uit 100 op Metacritic.

Elizabeth Weitzman van die New York Daily News gee dit twee sterre. “Die fliek dra sy oppervlakkigheid met amper aandoenlike trots,” skryf sy. “Die regisseur, Peter Glanz, is ook skaamteloos eerlik oor sy bewondering vir ander vervaardigers en steel Wes Anderson (Moonrise Kingdom) se droë vertelstyl en puntenerige stelontwerp en Whit Stillman (Damsels in Distress) se ondeunde stemming. Die opregte benadering hou die fliek amusant pleks van irriterend, en Bateman en Crudup lewer vermaaklike spel.”

- Sandra Visser