The Hunger Games: Mockingjay – Part 1 (10-12O G) is die derde in die reeks gegrond op Suzanne Collins se trilogie jeugromans, maar, soos met die slotaflewerings van Harry Potter en Twilight, het die vervaardigers dollartekens gesien en besluit om die laaste boek in twee te deel en blykbaar niks weg te laat nie. Dit was dalk nog geregverdig in Harry Potter se geval omdat daar so baie in die laaste boek gebeur, maar wat Twilight en The Hunger Games betref, voel dit bloot na ’n geldmaakfoefie.

Nadat sy uit die arena gered is maar haar tuiste, District 12, heeltemal deur die bose pres. Snow (Donald Sutherland) se magte vernietig is, word Katniss (Jennifer Lawrence) na District 13 geneem. Die res van die land was onder die indruk dat hierdie distrik deur die wrede regerende regime vernietig is na die inwoners gerebelleer het, maar die mense van District 13 het hul geboue bloot ondergronds herbou. Die rebellieleiers wil hê Katniss moet die gesig van die opstand word en ander so inspireer, maar sy ly aan posttraumatiese skok; al waaraan sy kan dink, is dat Snow besig is om aan haar vriend, Peeta (Josh Hutcherson), te martel. Gaan Katniss weer kan seëvier?

Die meeste resensente hou van die fliek. Dit kry 69 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Hierdie voorloper tot die franchise se slot is gelaai met spanning, goeie toneelspel en slim politieke subteks.”

Die Britse fliektydskrif Total Film se Kevin Harley gee dit vier sterre. “Dis ’n ingewikkelde boek om te verwerk, maar ten spyte daarvan skep die regisseur, Francis Lawrence, ’n diep, kragtige fliek,” skryf hy. “Jennifer Lawrence ontlok meegevoel by die gehoor vir Katniss, wat herinner aan Aliens (1986) se gekwelde Ripley.”

Helen O’Hara van die Britse rolprenttydskrif Empire is minder opgemaak met Mockingjay – Part 1, en ken drie sterre daaraan toe. “Die drama en stemming is kragtig en doeltreffend, en Lawrence skep ’n uiters charismatiese heldin, maar ’n amper algehele gebrek aan aksie laat hierdie aflewering soos water trap voel.”

As wetenskapsfiksie oor menslike lyding jou nie aanstaan nie, is daar darem nog drie nuwe flieks dié week.

Die komedie The Grand Seduction (10) handel oor inwoners van ’n vissersdorpie op die Kanadese eiland Newfoundland wat bitter graag ’n plaaslike dokter wil kry omdat dit ’n voorwaarde is vir die bou van ’n nabygeleë fabriek wat die dorp se ekonomie sal red. Toe die burgemeester (Brendan Gleeson van Edge of Tomorrow) uitvind dat ’n jong dokter (Taylor Kitsch van John Carter) as straf daarheen gestuur word, werk hy en die dorpenaars saam om hom op enige manier denkbaar daar te hou.

Die meeste kritici dink die fliek is heel oulik. Dit kry 57 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en laasgenoemde gee dit 60 persent. Hulle bevind: “The Grand Seduction kan nie heeltemal kers vashou by die klassieke komediedramas wat dit oënskynlik doelbewus oproep nie, maar drentel voort op ’n aangename wyse wat kykers sal bekoor.”

Donald Clarke van The Irish Times gee dit drie sterre. “Die sentimentaliteit is absurd en die fliek is net ’n tikkie reaksionêr. Baie min gebeur wat enigsins geloofwaardig is. Maar Gleeson en sy trawante kry dit reg om iets te skep wat darem in ’n groot mate vermaaklik is.”

Empire se Anna Smith is nie juis beïndruk nie. Sy ken net twee sterre daaraan toe en voel dis baie voorspelbaar en probeer te hard om snaaks te wees.

Die akteur Idris Elba (Pacific Rim) span weer kragte saam met sy Luther-regisseur Sam Miller in die riller No Good Deed (13 TG). Idris speel ’n sjarmante skurk wat by die huis van ’n enkelma, Terri (Taraji P. Henson van The Curious Case of Benjamin Button), aandoen en beweer sy motor het onklaar geraak. Sy nooi hom in en gou is die gort gaar.

Verreweg die meeste resensente dink die fliek is swak. Dit kry slegs 11 persent op Rotten Tomatoes, wat dit beskryf as “vervelig en afgewater. Die fliek ly onder ’n gebrek aan inspirasie en vermors sy sterre se talente – en die gehoor se tyd.”

Lindsey Bahr van Entertainment Weekly gee dit ’n C. “Êrens binne-in dié fliek is die kiem van ’n prikkelende idee begrawe om die denkwyse van ’n wrede narsissis (wat ons herhaaldelik herinner word reeksmoordenaar Jeffrey Dahmer se diagnose was) skerpsinnig te ondersoek,” skryf sy, “maar No Good Deed verkies om liewer ’n redelik konvensionele riller te wees. Die meeste van die tyd wag ons dat Terri moet agterkom die man is eintlik ’n psigopaat. Soms wag ons in spanning, maar meestal is ons verveeld. Met sterk akteurs soos Henson en Elba kon die fliek beslis meer opgelewer het.”

Empire se James White gee dit twee sterre. “Elba is geloofwaardig as ’n dreigende psigopaat, en Henson kry so af en toe kans om regtig toneel te speel en uit die clichés van die hulpelose vrou te breek wanneer sy terugbaklei teen haar aanvaller, maar nie een van die akteurs kan die draaiboek se beperkings oorkom nie.”

God Help the Girl (10-12O T) is ’n aweregse musiekspel wat handel oor ’n depressiewe, jong, Skotse vrou (Emily Browning van Sucker Punch) wat uit ’n inrigting ontsnap en aanklank vind by twee musikante (Olly Alexander van Great Expectations en Hannah Murray van die TV-reeks Game of Thrones) saam met wie sy ’n musiekgroep stig.

Die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 73 uit 100 by Metacritic en 69 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “Sinieser kykers sal voel dis oordadig soetsappig, maar dié fliek slaag te danke aan sjarme en die talentvolle rolverdeling.”

Emma Johnston van Total Film gee dit drie sterre. “Die skattigheid sal net soveel kykers trek as afstoot, maar die fliek het ’n groot hart en dra dit op sy mou.”

Peter Keough van The Boston Globe gee dit twee sterre. “Die storie slinger rond. Sommige tonele volg nie op mekaar nie. Sommige voel soos flou musiekvideo’s, ander dra niks by nie. Sommiges probeer te hard om drama te skep en sommiges beeld die werklik humoristiese, spontane interaksie tussen talentvolle jong mense uit. Laasgenoemde is sekerlik grootliks te danke aan die akteurs.”

- Sandra Visser