In A Most Wanted Man (16T), wat gegrond is op John le Carré se gelyknamige roman, vertolk die talentvolle Philip Seymour Hoffman, wat vroeër vanjaar oorlede is, een van sy laaste hoofrolle. ’n Moslem-vlugteling (Grigoriy Dobrygin) van Tsjetsjnja daag op in Hamburg en dit blyk hy is die erfgenaam van ’n groot fortuin. Maar is hy ’n onskuldige slagoffer, of ’n gevaarlike terroris?

Die Duitse regering wil hom in hegtenis neem, Martha Sullivan (Robin Wright van die TV-reeks House of Cards) van die Amerikaanse spioenasieagentskap, die CIA, wil inligting uit hom hê en ’n idealistiese prokureur (Rachel McAdams van The Vow) wil hom sy erfporsie help kry. Philip se karakter is die hoof van Hamburg se teenterreur-eenheid wat dink dit sal beter wees om die vlugteling sy gang te laat gaan en te kyk waarheen hy hulle lei. Wie se agenda gaan seëvier?

Die meeste resensente is vreeslik beïndruk met die fliek. Dit kry 91 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle beskryf dit as “slim, subtiel en deurgaans boeiend. A Most Wanted Man bewys opnuut dat John se boeke uitstekende wegspringpunte is vir skerpsinnige rillers wat jou laat dink.”

Kevin Harley van die Britse filmtydskrif Total Film is net so in sy noppies met die rolprent en gee dit vier sterre. “Hierdie outydse, spannende spioenasieriller hoef nie terug te staan vir enige ander fliek in dié genre nie. Hoffman is elke sekonde in beheer.”

Ian Nathan van die Britse fliektydskrif Empire is nie heeltemal so mal oor die film nie en gee dit drie sterre. “Al is dit koelkop intelligent en aktueel ambisieus, is hierdie ’n futlose verwerking van Le Carré. Tog maak Hoffman se vaardigheid dit die moeite werd om te kyk.”

In die plaaslike dokumentêr 204: Getting Away with Murder vertel die drie selferkende moordenaars van die sakeman Brett Kebble – Mikey Schultz, Nigel McGurk en Faizal “Kappie” Smith – hul verhaal aan Warren Batchelor. Volgens Paul Boekkooi van Die Burger verwys die titel na die “204-regsbeginsel: ’n Volle en permanente vrywaring van strafregtelike vervolging word verleen in ruil vir betroubare getuienis.”

Paul gee dit vier sterre. “Die fliek is ’n ernstige aanklag teen talle onrusbarende elemente in ons samelewing wat klaarblyklik nie beheer kan word nie, laat staan nog uitroei. Dié dokumentêr is, ondanks knertsies opportunisme wat deursyfer, tog waagmoedig, boeiend en besonder kykbaar.” Steyn du Toit van die Cape Times gee dit ook vier sterre.

Die besige regisseur Woody Allen se nuutste fliek, Magic in the Moonlight (7-9OGD), het ’n heelwat ligter luim as sy 2013-poging, die tragikomedie Blue Jasmine, en herinner aan sy vrolike fantasie Midnight in Paris (2011). Dis 1928 en die grompot-Engelsman Stanley Crawford (Colin Firth van The King’s Speech) toer deur Europa en verbyster gehore met sy verhoogtoertjies as sy alterego, die goëlaar Wei Ling Soo. Stanley is egter streng rasioneel en verag enigeen wat maak asof hulle regtig bonatuurlike magte het. Toe ’n vriend hom vertel van ’n jong vrou, Sophie Baker (Emma Stone van The Amazing Spider-Man), wat haar voordoen as heldersiende en ingetrek het by ’n ryk Amerikaanse gesin op die Côte d’Azur, besluit Stanley om daarheen te gaan en te bewys sy is ’n bedriëer. Maar hoe beter hy die bekoorlike Sophie leer ken, hoe meer betower sy Stanley, en al probeer hy sy gesonde verstand gebruik, raak hy tot sy ore toe verlief.

Hierdie nuutste poging van Woody vind nie soveel byval by die resensente soos van sy vorige flieks nie. Dit kry net 54 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en laasgenoemde gee dit 51 persent. Hulle bevind: “Al is dit glad nie ’n mislukkig nie, is Magic in the Moonlight net te gering om uit te staan tussen Woody se beste werk.”

Ian Nathan van Empire is toegeefliker en gee dit drie sterre. “Hierdie Jazz-era bakatel is een van Woody se mindere stukke,” skryf hy. “Dit bevat die lewensvreugde, literêre nostalgie en elegansie van Midnight in Paris, maar is nie so snaaks nie en het ook nie dieselfde hunkerende gees nie. Dis meer soos ’n skaflike kortverhaal, ’n nonchalante briesie na die emosionele rukwind van Blue Jasmine. Maar dis sjarmant, effens satiries en Stone is ’n plesier om na te kyk.”

Kate Muir van die Britse koerant The Times gee dit net twee sterre. “Kan daar twee Woody Allens wees van wie een ’n bedriëer is?” skryf sy. “Hoe kan dieselfde man wat Blue Jasmine geskep het ’n jaar later hierdie lui, soetsappige film bekendstel? ’n Bekoorlike rolverdeling word vermors op ’n storie so outyds en eentonig dat dit voel soos Oscar Wilde met ’n lobotomie.”

Die historiese drama The Immigrant (16TN) handel oor ’n idealistiese vrou, Ewa (Marion Cotillard van The Dark Knight Rises), en haar suster, Magda (Angela Sarafyan), wat in 1921 van Pole na Amerika reis en hoop om ’n beter lewe te begin. Maar Magda word siek tydens die bootreis en word in kwarantyn geplaas en Ewa moet haar eie pad op die strate van New York vind. Sy beland in die kloue van die gewetenlose Bruno (Joaquin Phoenix van Gladiator) wat haar dwing om ’n prostituut te word. Dan ontmoet sy die aantreklike goëlaar Orlando (Jeremy Renner van The Avengers) en begin sy hoop dat sy dalk tog weer gelukkig kan wees – maar Bruno gaan haar nie sommer laat gaan nie.

Kritici dink dis ’n uitstekende fliek. Rotten Tomatoes gee dit 87 persent en bevind: “Die fliek is visueel asemrowend en beslis die kyk werd danksy James Gray se selfversekerde regie en ’n sterk vertolking deur Marion.”

Geoff Pevere van die Kanadese koerant The Globe and Mail gee dit drie en ’n half sterre. “Gray se fliek is ’n amper foutlose voorbeeld van die soort fliek wat mense sê nie meer gemaak word nie: dis ernstig, hartstogtelik, is op volwassenes gemik en fokus op die karakters.”

David Stratton van At the Movies (abc.net.au) gee dit vier sterre en beskryf dit as pragtig en donker met uitstekende toneelspel.

Die wetenskapsfiksieaksiefliek Brick Mansions (16 TG) is een van die laaste flieks wat die Fast & Furious-ster Paul Walker gemaak het voor hy in 2013 oorlede is. In die toekoms kan die polisie nie meer die misdaad in ’n arm buurt van Detroit beheer nie en daarom is dit omhein met ’n reuse muur om die res van die stad te beskerm. Paul speel ’n geheime polisieman wat dié buurt patrolleer. Sy paaie kruis met dié van ’n misdadiger (die waaghals David Belle) wat ’n nuwe blaadjie probeer omslaan. Saam moet hulle ’n misdaadbaas (die rapper RZA) se plan probeer stuit om ’n bom in die middestad te laat ontplof.

Die fliek is gegrond op die Franse fliek District B13 (2004), wat bekend is vir David se parkour-waagtoertjies. Parkour is ’n sport waarin mense in stedelike gebiede teen en oor mure en ander mensgemaakte voorwerpe spring en gimnastiektoertjies uithaal.

Die meeste resensente dink die fliek is swak. Dit kry 40 uit 100 by Metacritic en slegs 26 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “Dis rukkerig geredigeer en het nie veel van ’n storie nie. Brick Mansions vermors ’n innemende rolverdeling op ’n sinlose herskepping van die veel vermaakliker District B13.”

Empire se David Hughes stem saam en gee dit twee sterre. “Aanhangers van die oorspronklike fliek sal tuisvoel as hulle Brick Mansions kyk; dit kopieer District B13 amper kameraskoot vir kameraskoot. Maar Camille Delamarre se lomp regie en gans te min parkour-tonele keer dat dit stoom optel.” Trevor Johnston van Time Out gee dit ook twee sterre en beskryf dit as voorspelbaar en volgens ’n geykte resep, maar met skaflike aksietonele.

As jy hou van bangmaakflieks en enigiets in dié genre sal kyk, kan jy dalk Annabelle (13G) probeer. Dis speel af voor die gebeure in The Conjuring (2013), en fokus op dieselfde grillerige pop, Annabelle, wat glo besete is. In 1967 in Amerika verwag ’n paartjie hul eerste kind. Die man, John (Ward Horton), gee sy vrou, Mia (Annabelle Wallis), ’n pop as geskenk. Een aand hoor Mia hoe ’n moord langsaan gepleeg word en word sy aangeval deur die bure se dogter, Annabelle Higgins (Tree O’Toole), en dié se kêrel. Gelukkig kom John en die polisie daar aan en skiet die kêrel, maar Annabelle neem haar eie lewe voor hulle haar kan keer en haar bloed spat op die pop. Annabelle en die man het daardie aand haar ouers vermoor en was glo Sataniste. Kort daarna begin sien John en Mia vreesaanjaende dinge. Wat dink jy is aan die gang?

Die meeste kritici dink die fliek is flou. Dit kry slegs 31 persent by Rotten Tomatoes en die konsensus is: “Annabelle leen onbeskaamd by ander beter gruwelflieks. Die filmmakers is tevrede daarmee om kykers net kort-kort te laat skrik vir koue pampoen en dié fliek voeg niks noemenswaardigs by die veel effektiewer The Conjuring nie.”

Rosie Fletcher van Total Film dink ook dis flou. Sy gee dit slegs een ster en voel die bangmaakoomblikke is generies en ’n mens kan die kinkels ver al sien kom. Siobhan Synnot van The Scotsman gee dit twee sterre en beskryf dit as onsubtiel en eentonig.

Die Underworld-ster Kate Beckinsale los vir ’n slag die aksierolle om te speel in die riller Eliza Graves (16G), ook bekend as Stonehearst Asylum, wat gegrond is op ’n kortverhaal deur Edgar Allan Poe. In die laat 19de eeu begin ’n jong dokter, Edward Newgate (Jim Sturgess van 21), by ’n inrigting in Londen werk en raak hy toenemend obsessief oor die geheimsinnige pasiënt Eliza Graves (Kate). Maar als is nie pluis by dié inrigting nie.

Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie, maar gegrond op 20 resensies, kry dit tot dusver slegs 47 persent op Rotten Tomatoes. Christian Toto van hollywoodintoto.com is egter heel positief en gee dit sewe uit 10. “Die fliek sal jou twee keer laat dink oor hoe mense met sielkundige probleme in die verlede en ook nou behandel word. Dis ’n slim riller met ’n tikkie melodrama.”

- Sandra Visser