Die eerste is Suurlemoen! (OT), wat gegrond is op Jaco Jacobs se gewilde jeugroman. Die 16-jarige Tiaan (Tiaan Kellerman) en Zane (Ben Pienaar) is buitestanders by hulle skool. Hulle hou van skaatsplankry, blog oor wat hulle dink in meisies se kop aangaan en droom daarvan om eendag in ’n rockgroep te speel.

Maar hulle kry teëspoed toe Zane besluit om die Mozart-beeld in die musiekklas se lippe met lipstiffie rooi te verf. Die musiekonderwyser, mnr. Marx (Chris Chameleon), vang hulle uit en as straf moet hulle die rugbyspan se truie was, maar dit loop lelik skeef en nou skuld hulle die skool R30 000.

Mnr. Marx bied hulle ’n uitkomkans. Hy stel voor hulle skryf in vir ’n rockgroepkompetisie. Al wen hulle nie, sal die res van die skool eindelik dink hulle is koel. Maar om nog lede vir hulle groepte kry is makliker gesê as gedaan.

Laetitia Pople van Die Burger gee dit twee sterre. “Suurlemoen! voldoen aan vereistes, dit vermaak en die teikengehoor sal dit geniet,” skryf sy. “Die boodskap, dat daar altyd iemand is wat jou raak sien, is ook treffend. Tog kon die rolprent soveel meer gewees het.”

Steyn du Toit van die Cape Times is gunstiger gesind en gee dit drie sterre. “Diegene wat vertroud is met rockgroepflieks soos School of Rock en This Is Spinal Tap sal Suurlemoen! baie geniet,” skryf hy.

“Al hou die storie redelik by die formule vir dié soort flieks, kry die film relevansie en waarde te danke aan die gebruik van liedjies van Suid-Afrikaanse rockmusikante van die 80’s, soos Koos Kombuis en die Voëlvry-beweging. Suurlemoen! laat ’n mens allermins met ’n suur smaak in die mond.”

Die wetenskapsfiksie drama The Giver (10-12OG) is gegrond op die gelyknamige boek deur Lois Lowry. Dit speel af in ’n skynbaar ideale maar kleurlose wêreld van konformiteit en tevredenheid.

’n Jong man, Jonas (Brenton Thwaites van Maleficent), begin werk as die assistent van The Giver (Jeff Bridges van True Girt), ’n ou man wat die gemeenskap se geskiedenis bewaar. Maar namate Jonas meer uitvind oor sy samelewing, besef hy dis gegrond op ’n groot leuen en moet hy dit noodwendig probeer verander.

Dis ongelukkig slegte nuus vir aanhangers van dié jeugboek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaar tel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 33 persent. Hulle sê: “Phillip Noyce se regie verleen visuele bekoring maar delf nie diep genoeg in die klassieke bron se stof tot nadenke nie.”

Lisa Kennedy van The Denver Post is meer welwillend en gee dit drie sterre. “The Giver is 18 jaar voor Divergent en 15 jaar voor The Hunger Games gepubliseer, toe distopiese wetenskapsfiksie vir tieners nog nie mode was nie. Tog het dié twee die silwerdoek gehaal voor Lowry se boek,” skryf sy.

“Vir aanhangers van eersgenoemde twee boeke se fliekverwerkings sal The Giver waarskynlik te mak wees. Dis nie so donker nie en gemik op ’n jonger gehoor. Daar is ’n ordentlikheid met ’n onderliggende kilheid. Dis hoë gehalte en ’n respekvolle hantering van ’n literêre bron.”

David Nusair van reelfilm.com gee dit twee uit vier sterre. “Die misplaaste derde deel, wat voel asof dit vir ewig aanhou, bevestig dat The Giver ’n flou verwerking is wat soveel beter kon en moes wees,” skryf hy. “Dis veral teleurstellend gegewe die uitstekende toneelspel en indrukwekkende eerste helfte.”

Die riller Before I Go to Sleep (16TG) is ook gegrond op ’n roman, deur S. J. Watson. Jare gelede was Christine (Nicole Kidman van Moulin Rouge!) in ’n ongeluk. Elke oggend wanneer sy wakker word, kan sy niks onthou nie en moet haar man, Ben (Colin Firth van The King’s Speech) haar help oriënteer en dr. Nash (Mark Strong van Sherlock Holmes) haar terapie aanbied. Maar Christine begin twyfel aan dit wat hulle haar vertel.

Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Rotten Tomatoes gee dit 60 persent en die gevolgtrekking is: “Al vermy dit nie heeltemal rillerclichés nie, bied Before I Go to Sleep steeds stylvolle afleiding met ’n vinnige pas en goeie toneelspel.”

Die Britse rolprenttydskrifte Empire en Total Film gee dit elkeen drie sterre. Eersgenoemde se Helen O’Hara skryf: “Die akteurs se sterk vertolkings hou die kyker net so aan die raai soos ons heldin, maar die drama tussen die karakters maak geleidelik plek sodat die riller-elemente kan oorneem, en dis tot die fliek se nadeel.”

Total Film se Jamie Graham voel dis “’n aantreklike riller wat jou deurgaans boei en ’n paar slim kinkels bevat. Maar verwag ’n sterk gevoel van déjà vu.”

Keira Knightley (Pirates of the Caribbean) en Mark Ruffalo (die hulk in The Avengers) vertolk die hoofrolle in Begin Again (16T), wat baie herinner aan nog ’n prent van die Ierse regisseur en draaiboekskrywer John Carney, die Oscar-bekroonde Once (2006).

Weer kom twee mense bymekaar uit danksy hul liefde vir musiek maak. Mark speel Dan, ’n musiekvervaardiger wat pas sy werk verloor het toe hy by ’n kroeg inval en hoor hoe Gretta (Keira) haar hart uitstort in ’n liedjie wat sy self geskryf het.

Gretta se kêrel, die rockmusikant Dave (die sanger Adam Levine), het haar pas gelos noudat sy loopbaan op dreef kom. Dan en Gretta vind aanklank bymekaar en besluit om met ’n kreatiewe projek te begin: Hulle wil ’n album op straat in New York opneem.

Verreweg die meeste resensente dink dis ’n baie goeie fliek. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 62 uit 100, en by laasgenoemde kry dit 82 persent. Hulle meen: “John se terugkeer na musikale drama is nie heeltemal so dinamies soos Once nie, maar te danke aan die sjarmante toneelspel van Keira en Mark kan ’n mens Begin Again moeilik weerstaan.”

Empire se Ian Freer gee dit vier sterre. “Dis ’n vreugdevolle fliek oor die goeie dinge in die lewe: liefde, familie, verhoudings, New York, kreatiwiteit en musiek,” skryf hy. “En Knightley en Ruffalo is een van die ongewoonste maar innemendste paartjies van die jaar.”

Sandra Hall van The Sydney Morning Herald gee dit ook vier sterre. “Die hele fliek is deurdrenk met ’n rooskleurige gloed,” skryf sy. “En om ’n trefferalbum te skep lyk verbasend eenvoudig. Maar net ’n grompot sou beswaar maak. Carney verweef die liedjies kundig met die storie en soos alle goeie musiekspele behaal die fliek ’n ligte, vloeiende ritme wat jou beslis sal opbeur.”

Die Ierse drama Calvary (16DTG) handel oor ’n priester, vr. James (Brendan Gleeson wat Mad-Eye Moody in die Harry Potter-flieks gespeel het), wat een oggend ’n doodsdreigement kry toe hy gemeentelede se belydenisse aanhoor.

Hy word uitgedaag om oor ’n week die persoon op ’n strand te ontmoet om pa te staan vir ’n ander priester se kindermolesteringsdade. Vr. James is diep geskok en probeer die saak ondersoek terwyl hy ook sy brose dogter, Fiona (Kelly Reilly van Sherlock Holmes), bystaan en steeds sy gemeente probeer dien.

Die resensente is gaande oor Calvary. Dit kry 89 persent op Rotten Tomatoes en die gevolgtrekking is: “Brendan oorheers die fliek met ’n briljante vertolking. Calvary takel gewigtige vraagstukke met humor, intelligensie en sensitiwiteit.”

Andrew Lowry van Total Film gee dit vyf sterre. “Die fliek word geanker deur ’n uitstekende vertolking deur Gleeson. Dié onverwagte vermenging van ’n passiespel, speurverhaal, plattelandse komedie en ernstige ondersoek oor geloof is bestem om klassieke status te bereik.”

Liam Lacey van The Globe and Mail is minder opgemaak met die fliek en gee dit drie sterre. “Calvary is ’n verontrustende konkoksie – abstrak en brutaal en moreel ernstig, maar die oneerbiedigheid is te onsmaaklik om dit ’n komedie te maak. Wanneer jy ophou snak na jou asem oor die skokkende oomblikke en grappies, is daar tog diepsinnigheid in die stryd om ’n balans tussen woede en vergifnis te vind.”

Die veteraan Britse akteur Michael Caine speel die naamrol in Mr Morgan’s Last Love (7-9OTG). Matthew Morgan is ’n bejaarde, eensame Amerikaanse wewenaar wat in Parys woon, maar nie Frans kan praat nie.

Toe hy die jong danseres Pauline (Clémence Poésy, Fleur Delacour in die Harry Potter-flieks) ontmoet, skep hy opnuut moed vir die lewe. Die ewe eensame Pauline sien die kans om ’n band met iemand te vorm. Maar dan kom kuier sy kinders (The X-Files se Gillian Anderson en Justin Kirk van die TV reeks Weeds) en dink sy is net ’n fortuinsoeker.

Die meeste resensente dink die fliek is flou. By Metacritic kry dit 36 uit 100 en by Rotten Tomatoes 30 persent. Hulle bevind: “Mr Morgan’s Last Love vind baat by tipiese sterk toneelspel deur Michael Caine, maar dis op die ou end te soetsappig en talm te veel om trefkrag te hê.”

Empire se Patrick Peters is ’n bietjie meer toegeeflik en gee dit drie sterre. “Dis ’n opregte maar soms sentimentele saga. Michael en Clémence is sjarmant en Parys hemels.”

Cath Clarke van Time Out gee dit twee sterre en draai nie doekies om nie. “Hierdie sentimentele Michael Caine-drama is so vervelig, dokters kan dit voorskryf vir slapeloosheid,” skryf sy.

As jy nie lus is om diep na te dink nie, is daar ook Let’s Be Cops (16DTG). Twee sukkelaars (Damon Wayans jr. en Jake Johnson, wat albei in die TV-reeks New Girl te sien is) trek aan soos polisiemanne vir ’n konstuumpartytjie en vir die eerste keer in hul lewe neem mense notisie van hulle.

Die nuutgevonde respek is te lekker om te laat gaan en hulle koop ’n ou polisiemotor en begin die buurt patrolleer. Maar kort voor lank kry hulle natuurlik met regte skurke te doen.

Die meeste resensente dink dis ’n bra simpel fliek. Rotten Tomatoes gee dit 20 persent en meen: “Damon en Jake het hope talent as komediante en werk goed saam; ongelukkig misluk Let’s Be Cops daarin om enigiets met hul talent te doen.”

Neil Smith van Total Film is op ’n heel ander golflengte en gee dit vier sterre. “Soms is dit goed om eenvoudig te wees,” skryf hy. “’n Sprekende voorbeeld is Let’s Be Cops, ’n komedie wat ’n slim idee – sal dit nie lekker wees om soos ’n polisieman op te tree nie? – vat en ’n treffer daaruit skep.” Die fliek herinner Neil aan 21 Jump Street se roekelose uitbundigheid en hy dink Damon en Jake is ’n wenkombinasie.

Tom Russo van The Boston Globe stem saam met die res en gee dit een uit vier sterre. “’n Mens verwag die los improvisasie-humor van New Girl, en die regisseur, Luke Greenfield (The Girl Next Door), mik dalk op buitensporige lawwigheid, maar hy en die hoofakteurs is vasgeketting aan die draaiboek, en die draaiboek is glad nie baie snaaks as jy eers verby als kom wat reeds in die voorprent onthul is nie.”

- Sandra Visser